Die indrukwekkende regsgeleerde is nou amptelik een stap nader aan dié gesogte pos losslaan.

Die komitee het Dinsdag, 30 Augustus, ooreengekom op ’n verslag waarin hulle haar aanbeveel en gee dit nou aan die nasionale vergadering (NV), wat dit volgende Woensdag gaan bespreek en oor haar aanstelling moet stem. Sestig persent van die lede moet die aanstelling goedkeur om dit van krag te maak. Sou die NV haar aanstelling goedkeur, sal sy die belangrike werk oorneem wat adv. Thuli Madonsela tot dusver gedoen het. Hier is ’n paar dinge wat jy oor haar moet weet. 1. Busisiwe werk by die staatsveiligheidsagentskap as ’n ontleder en was voorheen betrokke by die departement van binnelandse sake, waar sy in die afdeling vir immigrantesake as direkteur gewerk het. Die teenkorrupsiegroep Corruption Watch het haar benoeming verwelkom en gesê hulle is verheug “die finale benoeming is iemand wat die werk op meriete gekry het en nie om enige ander redes nie”. Sy het ook sewe jaar lank as ’n ondersoekbeampte vir die OB gewerk.

2. Sy het onder meer ’n graad in die regte, sowel as ’n meestersgraad in sakeleierskap en nagraadse diplomas in belasting- en maatskappyreg. Sy is ’n boorling van Limpopo, waar sy op Bethal aan die Sekondêre Skool Mkhephuli gematrikuleer het. 3. Die EFF, ANC en kleiner partye het hul steun teenoor haar uitgespreek, maar die DA was onseker of sy die beste mens vir die pos is. Sy kon glo nie tydens haar onderhoud voldoende verduidelik waarom sy ’n senior pos by binnelandse sake prysgegee het vir ’n meer junior pos by die staatsveiligheidsagentskap nie, het Glynnis Breytenbach van die DA gesê. Daar is glo ook gerugte dat sy pres. Jacob Zuma steun, maar meer as een komiteelid het dié gerugte as blote bewerings afgemaak.
4. Busisiwe, wat glo in haar 40’s is, was die jongste van die vyf lede wat op die kortlys vir die nuwe OB. “Sy is jonk, maar ’n dapper, ervare swart vrou wat boonop al vir die OB gewerk het,” het die EFF-leier, Julius Malema, haar lof besing. Daar is selfs tydens die vergadering gesê sy is “die naaste ding wat ons aan Thuli” het.

5. Kyk hier na haar onderhoud om die volgende OB te wees:

Bronne: news24, timeslive.co.za