“Dis ‘n groot geleentheid vir Suid-Afrikaanse rugby en in November, wanneer die besluit geneem word, hoop ons dit sal die begin wees van ‘n ses-jaar reis na ‘n hoogtepunt wat by die nasionale stadion in Johannesburg voor 84 373 toeskouers sal afspeel,” het Jurie Roux, die uitvoerende hoof van SA Rugby, by die wêreldbeker se hoofkantoor in Dublin in Ierland gesê.

Suid-Afrika se voorlegging weeg 8,2 kilogram en is 827 blaaie lank. Ons ding mee teen Frankryk en Ierland om gasheer te speel vir die gesogte kragmeting.

“Suid-Afrika is honger vir die toernooi en het die geriewe om dit aan te bied soos geen ander land op aarde kan nie. Ons het in 2011, 2015 en 2019 gebie en hier staan ons weer, wat bewys dit is vir ons en ons land nie net nog ‘n sport nie, maar ‘n beheptheid.”

Roux het gesê die mengsel van geriewe, die plaaslike omgewing en die klimaat sal toelaat dat die sport sy heel beste ten toon stel en sal Suid-Afrika en die res van die wêreld bemoedig.

Hy het ook gesê die sakeplan wat in Suid-Afrika se bod voorgestel word is onverbeterlik en dat 2,9-miljoen wedstrydkaartjies beskikbaar sal wees.

“Die boustene is reeds gelê en ons sal nie geld moet uitgee op infrastruktuur nie.

“Ons voorspel dat die aanbied van die beker R27-biljoen indirek na Suid-Afrika kan bring, waarvan R5,7-biljoen na lae-inkomste huishoudings kan gaan en waarmee daar 38 600 tydelike of vaste werke geskep kan word. Daar sal ook ‘n belastingvoordeel van sowat R1,4-biljoen vir die regering wees.”

Hy het ook moontlike besoekers van hul veiligheid verseker.

“Ons glo ‘n rugbywêreldbeker in Suid-Afrika sal ‘n geleentheid wees wat met selfs meer passie en landwye opwinding aangebied sal word as die 1995-toernooi 28 jaar gelede.”

Die gasheerland sal op 15 November aangekondig word.