André van Wyk (24), wat onder sy vriende as “Smiley” bekend staan, se ouers, Jan en Judie, het ook die hofverrigtinge bygewoon. Judie het saggies gehuil terwyl haar seun in die beskuldigdebank gesit het.
Sy regspan het bevestig dat hulle nie formeel om borgtog aansoek doen nie. Die staat het gevra dat André na ’n psigiatriese hospitaal gestuur moet word. André moet egter wag tot daar ’n bed beskikbaar is.
Landdros Pierre Wessels het gesê André moet intussen in ’n enkelsel in die hospitaalafdeling van die Kgosi Mampuru-tronk gehou word. Dit is dieselfde afdeling waar die veroordeelde Oscar Pistorius aangehou word.
Latham Dixon, André se regsverteenwordiger, het ná die hofverrigtinge aan die media gesê dat André se gemoedstoestand goed is. Hy het gesê dit is in sy beste belang om na die Weskoppies-psigiatriese hospitaal verwys te word om sy gemoedstoestand en wederregtelike bewussyn te bepaal van wat dit was ten tyde van die misdaad en wat dit nou is. Volgens 'n verslag van die distriksgeneesheer kan André nie die feite van die voorval onthou nie.

Die saak is uitgestel tot 25 Oktober 2016.