Volgens ’n studie waarvan die uitslag Woensdag bekendgemaak is, oorskry bestuurders van minibustaxi’s die snelheidsperk meer gereeld as dié van ander passasiersvoertuie.

Taxi’s word wetlik beperk tot 100 km/h, maar ry gereeld selfs vinniger as 120 km/h, het navorsers van die Universiteit Stellenbosch Woensdag gesê.

Bestuurders van ander passasiersvoertuie het tot in ’n kwart van gevalle vinniger as die toegelate 120 km/h gery.

Dr. Thinus Booysen, ’n senior dosent aan Maties se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese, sê die studie wou die bestuursgewoontes ondersoek van minibustaxibestuurder onderweg tussen Kaapstad en die Oos-Kaapse dorp Queenstown.

Die navorsers het vier gedeeltes van die roete waargeneem: Worcester tot Laingsburg, Laingsburg tot Beaufort-Wes, Beaufort-Wes tot Aberdeen en Graaff-Reinet tot Cradock.

Thinus sê bestuurders van minibustaxi’s het in vorige studies ook die spoedgrens op dié roetes oorskry, en selfs af en toe ook die 120 km/h-perk. In die eerste drie gedeeltes het die taxibestuurders meestal vinniger as bestuurders van ander passasiersvoertuie gery.

“Sowel taxi’s as gewone passasiersvoertuie het die snelperk oorskry. Passasiersvoertuie het dit sowat 15 persent van die tyd gedoen (in alle gedeeltes van die roete), en 25 persent (van die tyd) tussen Beaufort-Wes en Aberdeen,” het hy bygevoeg.

Taxibestuurders het in alle gedeeltes van die roete 45 persent van die tyd vinniger as 100 km/h gery, en 85 persent van die tyd tussen Beaufort-Wes en Aberdeen.

Die snelheidsperk tussen Worcester en Aberdeen is 60 persent van die tyd oorskry en 55 persent tussen Laingsburg en Beaufort-Wes.

“(Taxibestuurders) het in werklikheid die 120 km/h-perk 20 persent van die tyd in die eerste drie van die vier gedeeltes oorskry,” sê hy.

Daar is ook bevind dat passasiersvoertuie 5 persent van die tyd tussen Worcester en Laingsburg vinniger as 130 km/h gery het, en taxi’s 10 persent.

Volgens die studie het taxibestuurders 5 persent van die tyd op dié stuk pad vinniger as 135 km/h gery. Bestuurders van passasiersvoertuie het tussen Beaufort-Wes en Aberdeen 5 persent van die tyd vinniger as 137 km/h gery.

Die vinnigste wat ’n taxibestuurder in elke van die vier gedeeltes gery het, was onderskeidelik 158 km/h, 152 km/h, 154 km/h en 157 km/h.

Thinus sê die taxi-eienaars en -bestuurders het ingestem om aan die proefneming deel te neem en dat hul voertuie en gedrag gemonitor word.

Die data van ander passasiersvoertuie is deur TomTom Traffic Stats voorsien, en is anoniem van verskeie TomTom-toestelle ingewin.

- Sapa