Om bevogtiger aan ’n baba se vel te smeer kan later ekseem en selfs kosallergieë voorkom, dalk ’n goedkoop en maklike oplossing vir ’n groeiende probleem, het ’n Japannese instituut Vrydag gesê.

’n Klein studie deur die navorsers by die National Center for Child Health and Development in Tokio stel voor gereelde bevogtiging in die eerste paar weke van ’n baba se lewe help hul immuunstelsel onderhou.

Wetenskaplikes het 118 pasgeborenes verdeel in twee groepe van 59 elk, en het by een groep 32 weke lank ’n versagtende middel – ’n gliserien-gebaseerde nie-voorskrifbevogtiger – aangesmeer en niks by die ander groep nie.

Gevolglik het 19 in die intervensiegroep atopiese dermatitis, oftewel ekseem, ontwikkel, vergeleke met 28 in die kontrolegroep.

Die studie, wat die navorsers as enig in sy soort beskryf, noem tentatief dat bevogtiging die kans op ekseem met net minder as ’n derde verminder.

Die instituut het in ’n verklaring gesê dat bevogtigende middels die vel beskerm teen uitdroging en kraking, wat imuunselle blootstel en prikkelstowwe inlaat.

Op sy beurt vervaardig die liggaam dan meer teenliggaampies om die prikkelstof te beveg, wat tot oorvervaardiging lei.

Dit is hierdie oorvervaardiging van teenliggaampies wat die simptome van ’n allergie veroorsaak. Die instituut het gesê babas met ekseem is geneig om sterk reaksies op eierwit te toon, en kan dus later in hul lewe ’n eier-allergie of ander probleme soos asma of sinus-infeksies ontwikkel.

“Dit was reeds bekend dat droë vel ekseem sou veroorsaak. Een van hierdie studies se prestasies is dat ons duidelike syfers oor die waarskynlikheid van die ontwikkeling van ekseem het,” het die sentrum se woordvoerder, Toru Sato, Vrydag aan AFP gesê. “Navorsers kyk nou na hoekom van die babas steeds ekseem ontwikkel het.”

“ ’n Ander belangrike punt is dat die studie voorstel dat atopiese velprobleme dak verwant is aan ander allergiese reaksies, soos asma en hooikoors, wat later in die lewe kan verskyn.”

Navorsing oor allergieë het dikwels gefokus op die ma dieet, dat sy tydens swangerskap sekere stowwe vermy om oordrag na die fetus te voorkom.

SAPA