“Suid-Afrikaanse onderwysers werk in ’n ‘giftige’ omgewing, wat gekenmerk word deur ontevrede, oorwerkte onderwysers wat onder druk verkeer,” het dr. Lynette Jacobs, van Kovsies se skool vir onderwysstudies, Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Hul bevindings is gegrond op die antwoorde van sowat 1 000 onderwysers wat gevra is om ’n vraelys in te vul en dit korrek voltooi het.

Die vraelyste, met 43 vrae, is uitgestuur na 2 700 onderwysers op alle skoolvlakke in stad-, township-, plattelandse en plaasskole.

In die studie is bevind dat sowat 90 persent van die respondente in die voorafgaande 12 maande die slagoffers was van werkplekboelies (WPB), onder wie kollegas en lede van die skoolbestuur.

Voorbeelde van die afknouery is onder meer direkte afkeer toon, onwaarhede wat versprei word, mondelinge mishandeling, dreigemente en bespotting, beledigings en tergery, beskadiging van eiendom, sowel as liggaamlike geweld. Die navorser prof. Corene de Wet, van die UV se School for Open Learning, het gesê navorsing oor WPB’s volgens beroep toon die onderwys hou ’n hoë risiko in.

“Maar daar is nog nie genoeg navorsing onder onderwysers oor boelies in die werkplek gedoen nie.”

In die studie word ’n WPB beskryf as ’n kollega wat isolasie deur hul gedrag veroorsaak, met hul gedrag die professionele status van ’n mede-onderwyser ondermyn, met hul gedrag ’n kollega ondermyn en openlik negatiewe gedrag openbaar.

In die verslag is bevind dat byna 84 persent van onderwysers gely het onder gedrag wat hul professionele status ondermyn, gevolg deur isolasie wat deur gedrag veroorsaak word (80,3 persent).

Lynette sê WPB blyk ’n ernstige probleem in Suid-Afrikaanse skole te wees, vergeleke met met skole in Kroasië, Litaue, Turkye, Noorweë en die Verenigde Koninkryk.

Sy sê onderwysers het in “giftige” omgewings gewerk wat gekenmerk word deur ’n hoë voorkoms van geweld en afknouery tussen leerders sowel as tussen onderwysers.

Sekere skoolgemeenskappe trotseer ook morele verval, rassekonflik, geweld, wetteloosheid en swak ekonomiese vooruitsigte.

“Onderwysers knou mekaar gewoonlik af in skole waarin radeloosheid en disrespek koning kraai,” het sy gesê. Die verslag het bevind dat onderwysers ’n groot bydrae kan lewer om die land se onderwysstelsel van ondergang te red.

Die navorsing toon dat onderwysers mekaar emosioneel verniel, pleks dat hulle saamspan ter wille van almal se beswil.

Die navorsing se bevindings is onlangs in die Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa gepubliseer. - Sapa