Ouers, moenie keer as jul kinders ná skool buite wil speel of sport beoefen pleks van huiswerk doen nie. Dit blyk oefening is ook goed vir hul leervermoë!

Navorsers aan die Universiteit van Illinois in die VSA het 221 kinders tussen die ouderdom van sewe en nege vir ’n tydperk van nege maande bestudeer, en hulle het bevind dat dié wat ’n uur lank ná skool matige fisieke aktiwiteit gedoen het, beter oplet, afleidings doeltreffender kan hanteer en tussen take kan wissel terwyl hulle hul konsentrasie behou.

Vergeleke met hierdie groep het dié in die groep wat geen oefening ná skool gedoen het nie, min tot geen vordering getoon.

Hier is ’n paar lekker maniere om jou kinders aan die beweeg te kry:

- Oefening hoef nie altyd ’n uitmergelende taak te wees nie. Moedig jou kinders aan om buite te speel; stel hulle voor aan speletjies soos aan-aan en wegkruipertjie.

- Stel die voorbeeld deur self aktief te wees. As jou kinders daaraan gewoond is aan Ma en Pa wat gaan draf of gaan gim, gaan hulle meer geneig wees om hierdie gesonde gewoontes aan te leer.

- Verander hul roetine: As jou kinders nie graag aan die gang wil kom nie, kan jy hul tyd voor die TV of rekenaar beperk.

- Moedig ’n liefde vir die natuur aan: Een van die beste dinge van aktief wees is dat jy die natuur kan verken. Neem jou kinders na ’n park, strand of staproete. Die kans bestaan dat hulle meer geneig sal wees om dit te geniet om aktief te wees wanneer dit buite is en in ’n innemende omgewing is.

- Mieke Vlok

Bron: Eurekalert.