Die Hollywood-ster Angelina Jolie het verlede jaar gesê sy het ’n dubbele mastektomie ondergaan om haar risiko te verlaag om eendag borskanker te kry omdat ’n geenmutasie by haar gediagnoseer is wat haar risiko vir borskanker aansienlik hoër maak.

En ’n toenemende aantal vroue het die ingrypende uitweg begin kies om ná ’n diagnose alle borsweefsel te verwyder, selfs al is kankerweefsel net in een bors gevind. Navorsers wou vasstel watter bewyse daar is dat ’n dubbele mastektomie ’n langer lewensduur bied aan borskankerpasiënte in hierdie kategorie.

Dis die eerste studie wat die oorlewingskoers bekyk tussen die drie hoof chirurgiese ingrypings met borskanker: ’n Enkele of dubbele mastektomie, of ’n lumpektomie om net die kankerweefsel te verwyder, gevolg deur bestraling.

Daar is in die studie bevind dat net meer as 12 persent van pasiënte by wie ’n borsgewas in 2011 gediagnoseer is, ’n dubbele mastektomie gekies het, vergeleke met net twee persent in 1998.

“Maar ons kan nou sê die deursnee-borskankerpasiënt wat ’n bilaterale mastektomie kry, sal nie ’n beter oorlewingskans hê as die deursnee-pasiënt wat ’n lumpektomie en bestraling ondergaan nie,” sê Allison Kurian, die hoofouteur en ’n mediese professor aan die Universiteit van Stanford.

Van die sowat 190 000 mense wat aan die studie deelgeneem en by wie borskanker tussen 1998 en 2011 gediagnoseer is, het 55 persent ’n lumpektomie gevolg deur bestraling gekry, 38,8 persent ’n enkele mastektomie en 6,2 persent ’n dubbele mastektomie.

Swart vroue of dié in minderheidsgroepe en met ’n armoediger agtergrond was meer geneig om ’n enkele mastektomie te ondergaan as ander groepe. In teenstelling was die vroue wat albei borste laat verwyder het, gewoonlik uit die middel- of hoë stand, wit, onder 50 of ’n kombinasie hiervan.

Die langtermyn oorlewingskoers vir vroue wat ’n lumpektomie met bestraling ondergaan het, het nie statisties verskil van dié van die vroue wat ’n dubbele mastektomie ondergaan het nie, het Allison en haar medeouteur, Scarlett Gomez, bevind.

Die oorlewingskoers op lang termyn ná ’n enkele mastektomie was effens laer, maar die outeurs sê dis onduidelik of dit aan verskille in hul maatskaplik-ekonomiese status toegeskryf kan word. Hulle sê hierdie vroue het dalk ander gesondheidsprobleme gehad en het dalk gesukkel om opvolg-afsprake vir behandeling, wat bestraling insluit, na te kom.

Die BRCA1-geenmutasie is by Angelina gediagnoseer wat die risiko op borskanker met 85 persent verhoog. Ná ’n dubbele mastektomie verminder dié risiko tot net vyf persent.

Die outeurs van die studie, waarvan die bevindinge in die Journal of the American Medical Association gepubliseer is, het beklemtoon dat hul bevindinge nie beteken vroue met BRCA1 of BRCA-geenmutasie, of ’n familiegeskiedens van borskanker, moenie ’n dubbele mastektomie ondergaan nie. In sulke gevalle kan voorkomende chirurgie wel doeltreffend wees, sê hulle.

Bron : Sapa-AFP /mm