Sowat 37 persent van die wêreld se volwassenes was oorgewig of vetsugtig in 2013 en Suid-Afrika het ’n vetsugkoers van 42 persent vir vroue en 13,5 persent vir mans, volgens ’n studie wat deur The Lancet uitgereik is.

“Suid-Afrika het die hoogste koers vir oorgewig mense en vetsugtiges in sub-Sahara-Afrika,” lui die studie. “Sewe uit 10 vroue (69.3 persent) en vier uit 10 mans (38.8 persent) is oorgewig of vetsugtig. Onder Suid-Afrikaanse kinders is ’n vyfde van seuns en ’n kwart van meisies oorgewig of vetsugtig; sewe persent van seuns en 9.6 persent van meisies is vetsugtig.”

The Lancet het ’n nuwe studie van die Instituut vir Gesondheidstatistieke en Evaluering aan die Universiteit van Washington uitgereik. Die studie het die voorkoms van vetsug in 188 lande oor ’n tydperk van meer as 30 jaar bekyk.

In die studie word oorgewig gedefinieer as ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) of gewig-teenoor-lengte-verhouding van tussen 25 en 30, en ’n LMI van 30 of meer dui op vetsug.

Volgens die uitslae is meer as 30 persent van mense wêreldwyd – dis sowat 2,1 biljoen – oorgewig of vetsugtig. Daar is in die studie bevind dat geen land sedert 1980 met sukses hul vetsugkoers verminder het nie, terwyl die toename in die wêreldwye voorkoms van vetsug “beduidend, vinnig en wydverspreid” was.

Vetsug en oorgewig het sedert 1980 met 27.5 persent onder volwassenes en 47.1 persent onder kinders toegeneem. Wêreldwyd was vetsug in 2010 die oorsaak van 3.4 miljoen sterftes, meestal van hartsiektes. “Gesondheidsrisiko’s soos hartsiektes, kanker, diabetes, osteoartritis en chroniese niersiektes neem toe wanneer ’n persoon se LMI meer as 23 is,” lui die studie.

“Navorsing dui daarop dat as daar nie aandag hieraan geskenk word nie, kan die toename in vetsug lei tot afnames in lewensverwagting.”

Suidelike sub-Sahara-Afrika tel onder die wêrelddele met die hoogste aantal vroue wat oorgewig of vetsugtig is.

Volgens die studie het die aantal oorgewig en vetsugtige mense wêreldwyd toegeneem van 857 miljoen in 1980 tot 2.1 biljoen in 2013.

Die hoogste proporsie van die wêreld se vetsugtiges – 13 persent – woon in die Verenigde State, en China en Indië huisves gesamentlik 15 persent van die wêreld se vetsugtige bevolking. Die koerse in die studie is aangepas vir verskille in die grootte van die bevolking en ouderdomme met verloop van tyd in die lande.

Tussen 1980 en 2013 het die voorkoms van oorgewig en vetsugtige kinders en tieners met sowat 50 persent toegeneem.

Volgens die studie woon meer as 50 persent van die wêreld se vetsugtiges in 10 lande – die Verenigde State, China, Indië, Rusland, Brasilië, Mexiko, Egipte, Duitsland, Pakistan en Indonesië.

- Sapa