Caitlin Nelson, ’n student aan die Sacred Heart-universiteit in Connecticut, het op 30 Maart aan ’n Greek Life-eetkompetisie deelgeneem toe sy onbeheers begin ruk en op die grond neerval.

Sy het glo vier of vyf pannekoeke geëet toe sy inmekaarsak. Teen die tyd dat polisiebeamptes op die toneel aangekom het, was sy “bewusteloos en het sy nie asemgehaal nie”. Sy is later in die hospitaal dood.

Volgens mediese personeel het Caitlin allergieë gehad, maar hulle kon toe nog nie bevestig of dit ’n “bydraende faktor tot die voorval” was nie, volgens die polisie.

Volgens haar Facebook-blad was die mooi brunet die ondervoorsitter van haar studentevereniging se gemeenskapsdiensorganisasie en ’n vrywilliger vir Greek Life Gives wat oorskietkos van die kampus aan plaaslike skuilings skenk. Sy het ook traumaslagoffers van die tragiese skietvoorval in Newtown, Connecticut, in 2012 aktief gesteun.

Caitlin, wie se organe geskenk is, was net vyf toe haar pa, James Nelson, ’n polisieheld, in die terroriste-aanvalle op 11 September 2001 op die World Trade Center dood is terwyl hy mense help ontruim het.

Duisende studente en personeellede het ’n diens bygewoon wat die universiteit gehou het. “Die diens is gevolg deur ’n spontane kersligwaak terwyl gemeenskapslede mekaar getroos en vir Caitlin en haar familie en vriende gebid het,” het die universiteitswoordvoerder Deborah Noack in ’n verklaring gesê. “Die SHU-vlag het halfstok gehang ter nagedagtenis aan Caitlin.”

Paul Nunziato, voorsitter van die haweowerheid se polisieliefdadigheidsvereniging, het gesê: “My hart is stukkend vir Caitlin se familie. Soos haar pa, wat alles gegee het wat hy moontlik kon in die laaste oomblikke van sy lewe sodat ander kan leef, het Caitlin ook alles gegee wat sy kon vir ander.”

Sy het gestudeer met ’n beurs wat opsygesit is vir kinders van ouers wat op 9/11 dood is.

BRON: People, NY Daily News

- Saamgestel deur Nicci de Wet