Die aspirant-onderwyseres wou nog altyd modelwerk doen en het uiteindelik besluit om haar droom na te volg.

Die werk oor die Desembervakansie sou boonop genoeg geld inbring om die volgende jaar se studiegeld te dek. Sy het dit selfs oorweeg om ’n klein motor met die ekstra inkomste te koop.

Maar die oomblik toe Liesl die R500 inbetaal om vir ’n werk “geregistreer” te word wat haar ’n koel R150 000 in die sak sou bring, gevolg deur ’n jaar se winsgewekende kontrakte, het die “agent” verdwyn.

“Ek wil nie hê dit moet iemand anders gebeur nie,” het sy aan News24 gesê. “Dit gaan nie eintlik soveel oor die geld nie, maar dat ander mense nie ingeloop moet word nie.”

Sy sê toe haar pel vir haar die kontaknommer vir gee, het ene “Chante Smith” vir haar gesê sy’t ’n wonderlike werk, net vir haar.

‘Hulle laat dit wonderlik klink’

“Hulle laat dit soos hierdie groot, ongelooflike ding klink; dat hulle vanaf oorsee Suid-Afrika toe kom omdat die modelle hier goedkoper is. Ek het ’n bietjie agterdogtig geraak toe sy sê ek sou R150 000 verdien, maar sy’t verduidelik dit sou baie wees omdat dit uit euros omgeskakel word.”

Liesl sê die vrou het vir elkeen van haar vrae ’n geloofwaardige antwoord gehad. “Ná alles wat ek gesien het, het ek gedink dit moet wettig wees. Hulle laat dit so ongelooflik en wonderlik klink.”

Sy het self haar eie huiswerk gedoen – of dis wat sy gedink het – en Facebookblaaie gevind met wonderlike verwysings oor Next se werk in Londen, Parys en Milaan. Min wetende dis gegrond op die bekende modelagentskap met dieselfde naam.

Alles het bo verdenking gelyk, selfs die keuse van die vier groot banke waar sy kon betaal. Almal behalwe haar eie kleiner bank, maar dit was nie ’n probleem nie. Daar is aan haar gesê sy kan ’n oorplasing by Pep of Spar ook doen. Nóg gevaarligte het geflikker toe die vrou vir haar sê hierdie fasiliteit is beskikbaar vir skoolmeisies wat nog nie hul eie bankrekening het nie.

Snaakse gevoel

Sy het die geld inbetaal, maar die gevoel dat iets skort wou nie weggaan nie. Sy het die aand ’n deeglike soektog op Google gedoen en op ’n webtuiste afgekom wat waarsku dat dit ’n skelmstreek is.

Verskeie bydraers tot die webtuiste Report a Crime sê die vrou se ander name sluit in Chante Brits, Elizabeth du Preez en Liz Jacobs en een bydraer sê sy was “aktief” op die kampus van die Noordwes-universiteit.

Liesel sê sy’t haar geld probeer terugkry deur simpatie te probeer ontlok deur te sê sy kan dit nie meer bekostig nie en is ’n terugbetaling beloof.

“Toe ek wakker word, sien ek haar foto het verdwyn van my WhatsApp af en die foon lui nie eens meer nie. Het hulle nie ’n gewete nie? Ek wil nie hê meisies en ander vroue moet seerkry nie. Jy dink: ‘Sjoe, my drome gaan waar word’, maar eintlik word jy uit jou geld gekul.”

Polisie toe

Sy’s nog nie gereed om met haar pel te praat oor waar die nommer vandaan kom nie en het beplan om polisie toe te gaan.

“In die modebedryf is daar geen versoeke vir geld wat vooraf betaal moet word om ’n werk te kry nie,” het Lauren Livesey, ’n afdelingsbestuurder by Boss models in Kaapstad, aan News24 gesê.

“Daar is geen registrasiefooie nie en dis verkeerd dat jy ’n boek benodig om werk te kry. As ’n agentskap sien jy’t potensiaal, sal hulle dit namens jou reël.”

Sy sê as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik. Lauren sê aspirant-modelle moet agentskappe nagaan deur ’n register by die nasionale vereniging van modelagentskappe.

Die foon het nie gelui toe News24 die “agent” probeer kontak nie.

*Skuilnaam

News24