Humberto Moura Fonseca (23) het by die Julio de Mesquita-universiteit in die stad Bauru in die suidweste van Brasilië partytjie gehou toe die organiseerders ’n drinkspeletjie voorstel om te kyk wie kan 25 sopies binne minder as ’n minuut afsluk.

Nadat hy die drank gedrink het, het die student vir vriende gesê hy voel siek voor hy skielik inmekaargesak het.

Hy is inderhaas hospitaal toe gebring, maar is onderweg dood.

Nog ses studente het ernstige alkoholvergiftiging opgedoen, van wie drie steeds in ’n waakeenheid behandel word.

“Hulle het almal alkoholvergiftiging opgedoen en is in ’n kritieke toestand, met drie steeds onder waaksorg,” sê ’n hospitaalwoordvoerder.

Die polisie sal vermoedelik klagte indien.

“Twee vierdejaarstudente is by die universiteit in hegtenis geneem omdat hulle die geleentheid sonder ’n lisensie gereël en moontlik die dood van ’n student veroorsaak het,” sê hulle in ’n verklaring.

Bronne: News.com.au, The Mirror