Die nuwe jaar is hier en daar is geensins meer tyd vir rus of rustig wees nie. Almal is terug by die werk; dit is vergadering na vergadering en voor jy jouself kon knyp, is jou kinders ook weer terug by die skool.

Maar hoe wens jy nie hierdie jaar kan jy op die regte voet wegspring en gou-gou ’n roetine by jou kinders skep om te keer dat elke dag by die huis en skool in chaos gedompel word nie.

“Roetine en struktuur gaan hand-aan-hand” verduidelik Retha Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Elke familie benodig genoegsame struktuur om aan kinders die nodige sekuriteit en stabiliteit wat hulle nodig het, te bied.”

Want, verduidelik Retha verder, struktuur verminder angstigheid by kinders en lei vanselfsprekend tot ’n rustiger atmosfeer by die huis en skool. “Wanneer ’n kind weet wat volgende gebeur, aanvaar hulle dit makliker.” Maar wat kan ouers doen om suksesvol ’n roetine by hulle kinders te skep?

'Daarom moet tyd vir pret ook in die roetine ingewerk word.'

“Begin deur ’n daaglikse skedule op te stel,” sê Retha. “Maak ’n inligtingstabel wat jy teen die yskas opplak. Maar maak dit kreatief.”

Ouers kan byvoorbeeld ’n horlosie gebruik en langs elke uur die aktiwiteit vir daardie uur opplak. “As sewe-uur badtyd is, dui dit so op die horlosie aan. So leer die kinders nie net die skedule nie, maar ook hoe om tyd te lees!”

Saans kan ’n besige tyd in enige huishouding wees. Daarom meen kenners is dit belangrik dat aktiwiteite elke aand op dieselfde tyd gebeur, sodat kinders kan sien daar is nie uitkomkans van badtyd of huiswerk nie.

“Saans is natuurlik ook belangrike familietyd,” meen Retha. “Ouers wil graag hierdie tyd saam met hulle kinders spandeer, want hulle was heeldag self by die werk. Daarom kan ouers ook familieroetines skep wat die gesin saam doen. Selfs al is dit om half sewe kyk ons saam na 7de Laan.”

Omdat huishoudings kinders van verskillende ouerdomme het, is dit nie altyd moontlik om elke kind oor dieselfde kam te skeer nie. “Jou ouer kinders wil dalk later gaan slaap, maar in plaas daarvan om hulle vrye teuels te gee, gebruik eerder die ekstra tyd produktief deur huiswerk te doen, of ’n liefde vir boeke by die kind te kweek deur ’n uur se leestyd in te stel.”

Maar dit is belangrik dat kinders leer om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap, want dit lei tot gesonde slaappatrone en jy as ouer kan só seker maak jou kinders kry genoeg slaap.

Berei ook reeds die vorige aand voor vir die skooldag wat kom. Laat jou kinders hulle klere uitsit en hul skoolsak pak. “Dit verminder verwarring soggens wanneer almal jaag om betyds klaar te kry,” sê Retha.

Hoewel roetine baie voordelig kan wees vir kinders, moet ouers ook nie te rigied daaroor wees nie. “Kinders moet ook tyd gegun word om te speel en hulself te geniet. Dit help met hul fisiese ontwikkeling sowel as hul verbeelding en sosialiseringsvermoë.”

Daarom moet tyd vir pret ook in die roetine ingewerk word. “Beloon jou kind nadat hy of sy byvoorbeeld as deel van sy daaglikse roetine die vullis uitgevat het. Of verras hulle naweke deur hulle fliek toe te vat. So leer hulle ook dat hulle gehoorsaamheid vrugte afwerp.”

Opvoeders meen ’n roetine kan reeds van ’n baie jong ouderdom geskep word. “As ouer is jy volkome in beheer oor jou baba se lewe. Gebruik dit tot jou voordeel. Tyd is hier ’n baie belangrike faktor. Stel elke keer ’n baba se volgende voeding uit met ’n paar minute; geleidelik sal hy in die roetine kom om langer tussen voedings te kan gaan, en kort voor lank sal hy jou ’n hele nagrus gun,” sê Retha.