’n Sloot wat op ’n wildsplaas in Harmony naby Ofcolaco, onderdeur  ’n elektriese heining gegrawe is, is Saterdagmiddag gedurende ’n patrollie  deur Canine Security opgemerk. “Daar was geen sigbare tekens dat iemand die plaas binnegekom het nie, maar ondersteuning is versoek en twee ander teenstroopmaatskappye, Makutsi Safari-plaas en K9-bewaring het gereageer,” het Marius Jacobs, stigter van Watchdog Tzaneen en Canine Security-bedryfsbestuurder, gesê.

’n Plakkie van een van die renosterstropers is op die toneel gevind. Foto: Verskaf

’n Lokval is vir die stropers gestel. Omstreeks 21:00 het drie vermeende renosterstropers die plaas ingegaan. “Toe ons hulle konfronteer het die verdagtes op ons begin skiet en ons span het teruggeskiet,” het Marius gesê.

Een van die stropers is in hegtenis geneem en ’n ander gewond. Hy is in die hospitaal opgeneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het. ’n Derde het gevlug.

Vuurwapens, waaronder ’n 375-jaggeweer, en stropingsgereedskap is by die verdagtes gevind.