Buite haarself van blydskap. Dit was haar onmiddellike reaksie toe haar goeie vriendin, Caroline, haar ongeveer vier maande gelede gevra het om een van haar strooimeisies te wees.

Sy het dit al voorheen gedoen en het gedog dit sou kinderspeletjies wees. Min het sy geweet dat haar vreugde binnekort in “uiterste wanhoop” sou ontaard.

Die voornemende bruid het eers groeps-e-posboodskappe uitgestuur waarin sy insetsels vra rakende alles, van die kleure van die strooimeisierokke tot knoopsgatruikers vir die stooijonkers.

Maar die vrou, wat die storie anoniem gedeel het op Mama Mia, het dit afgemaak as “net effens oorgretig”.

Toe, op ’n “besonder besige” dag by die werk, het die anonieme strooimeisie, ’n Engels-onderwyseres by ’n hoërskool, haar e-pos tydens ’n kort pouse tussen oggendklasse nagegaan.

"'Haai, Hayley, Hoe gaan dit? Ek soek asseblief ’n paar voorstelle vir koekbakkers voor die einde van die werkdag. Ek en Jase wil aanwoel hiermee en ons het kontakbesonderhede, prysklasse, geure en ’n idee van hoe toonaangewend die verkoper is nodig – in tabelvorm sal fantasties wees. Excel is waarskynlik die beste, asseblief. Dankie!” het die e-pos gelui.

"Ek moes die e-pos ongeveer drie keer lees ten einde te peil wat sy van my vra, het die strooimeisie gedeel. Ná die derde ongelowige deurleesslag, het my bloed begin kook.

"'Ek werk voltyds, om hemelsnaam, hoe op aarde gaan ek al die inligting voor die einde van die dag bymekaarkry?’ het ek paniekbevange gedink.”

Sy het eindelik op die e-pos geantwoord en gesê haar dag is baie besig en sy sou dit nie teen die einde van die dag kon doen nie.

Sy het geen antwoord ontvang nie.

Caroline het eers gereageer nadat die strooimeisie vir haar die verlangde inligting gestuur het.

“Dankie hiervoor. Dit sou werklik van hulp gewees het as ek dit gister kon kry soos ek gespesifiseer het, maar ek waardeer dit,” het die antwoord gelui. "Eina. Ek het dit aan 'bruidstres' toegeskryf en met my gewone lewe aangegaan, in die hoop sy is nie te kwaad vir my nie.”

Maar Caroline se “oorywerige” versoek was maar net die begin.

Ná drie agtereenvolgende naweke se soek na die regte rok, het Caroline eindelik ’n “verstommende trourok van Marchesa-satyn gevind wat haar volmaak pas”.

"Die enigste probleem was dat die prys twee keer soveel was as dit waarvoor sy begroot het: $10,500 (R158,000),” het die anonieme vrou verduidelik.

"Ná baie gerusstellende boodskappe van: ‘doennn dittt, jy trou net een keer’ van haar vele strooimeisies, het sy besluit om dit te koop.”

Later daardie aand het die strooimeisies nog ’n e-posboodskap “wat ek begin vrees het” van Caroline ontvang. "Die onderwerplyn het gelui ‘Strooimeisies se bydrae tot die trourok’ en dit het die koue sweet op my lyf laat uitslaan.”

Die lang e-posboodskap het verduidelik hoe “ver oor hul begroting” sy en Jase was nadat sy so spandabelrig was met die rok.

Sy het geskryf hoe dit “heeltemal in orde is as jy nie kan nie” maar sy sou werklik bly wees as elke strooimeisie ongeveer $150 (R2260) kon “bydra” tot haar droomrok.

"Dit sou vreeslik baie vir haar beteken indien sy, terwyl sy met die paadjie afstap, iets kon dra waaraan ons almal deel het,” het die stomgeslane stooimeisie gesê.

"Dit, benewens ons eie uitrustings, akkommodasie, die henneparty, kombuistee en die drie dae in die spa wat sy wou hê ons moes voor die troue. My bankrekening is reeds leeg en nou dit?

“Ek was so woedend dat ek amper my foon tot aan die ander kant van die vertrek gegooi het!"

Tydens die plasing van die anonieme boodskap, het drie van die sewe strooimeisies reeds aangedui dat hulle met liefde vir Caroline se rok sal help betaal.

"Ek weet werklik nie of hulle dit regtig wou doen of nie. Ek begin egter stadigaan dink ek sal uit die penarie van hierdie troue en die vriendskap moet kom.”

Bronne: mammamia.com.au, yahoo.com