Die Tshwane-munisipaliteit het Dinsdag streng maatreëls rakende waterbeperkings in die hoofstad afgekondig. Die beperkings is onmiddellik van krag.

Darryl Moss, burgemeesterskomiteelid vir diens-infrastruktuur, het op ’n perskonferensie gemaan inwoners se watergebruik sal streng gemonitor word om ernstiger waterbeperkings af te weer.

Veral die Rooihuiskraal-omgewing is hard getref toe waterreservoirs leeggeloop het. Watertenkers is by verskeie skole en gemeenskapsentrums en in sommige strate ontplooi.

Volgens PretoriaFM spruit die kwaai watertekorte uit die onlangse hittegolwe en voortslepende droogte. “Ons het vier jaar lank in Suid-Afrika droogte gehad en die damvlakke is laer as wat hulle in jare was,” het Darryl gesê. “Die stad is ernstig daaroor om die vermorsing van water te beperk.”

Lees ook: Wat moet ek weet oor die sink van my eie boorgat?

Dit blyk uit die perskonferensie die damme se watervlak lyk beroerd.

PretoriaFM berig watervlak in die Bronkhorstpruitdam het van 81,4% in dieselfde periode verlede jaar gesak na 66,7%. Die vlak van die Vaaldam, die stad se hoofwaterbron, lê tans op 32,5%. Die Vaal-waterstelsel verskaf sowat 76% van die stad se water, terwyl 18% van watersuiweringsaanlegte, 5% van boorgate en 1% van die Pienaarsrivier kom.

Luidens die stad se amptelike Twitter-blad is maatreëls reeds ingestel om nie tussen 06:00 en 18:00 tuine nat te lei, enigsins motors met tuinslange te was of swembaddens te vul nie. Altesame 20% van die stad se water word gebruik om tuine nat te spuit en 30% gaan vir huishoudelike verbruik.

Lees ook: Waarom word Johannesburgers weer aangemoedig om water te spaar?

Darryl het gemaan beurtwater sal ’n laaste uitweg wees, maar sal onwaarskynlik wees as almal hul kant bring.

"Ons wil hê die inwoners van Pretoria moet saamwerk. Kyk na jou waterverbruik. As niemand saamwerk nie, kan ons watertariewe verhoog.” Die metropolisie sal ook op hul pos wees om te verseker almal werk saam.

“Ons sal die metropolisie stuur na die wyke waar waterverbruik hoog bly. Ons wil regtig nie die metropolisie van huis na huis stuur om seker te maak inwoners gee gehoor nie,” het hy gewaarsku. Hy het benadruk hulle wil nie graag boetes begin uitskryf nie.

Darryl het benadruk die doel is om die druk op die stad se waterstelsel te verminder om sodoende waterverbruik beter te bestuur. Die stad kan ook die watertoevoer uit sy reservoirs verminder.

Lees ook: Watertekorte: Hoe oorleef ek die ‘droogte’?

Die stad sal ook sy kant bring deur lekkasies vinniger te herstel. Darryl het mense aangespoor om lekkasies by hul wyksraadslid aan te meld. Kontrakteurs sal moet pa staan as waterpype beskadig word. Tot 80% van die groot lekkasies word deur kontrakteurs veroorsaak wat pype beskadig.

Herstelwerk is egter ’n probleem. “Ons maak net 47% van lekkasies binne 72 uur reg. Ons het nie genoeg loodgieters nie,” het Darryl gebieg.

Die herstel van lekkasies het die afgelope vyf jaar kwaai skipbreuk gely en meer moet daarvoor begroot word. Die stad sal watertenkers verskaf aan die gebiede waar dit nodig is.

Inwoners kan lekkasies per e-pos aanmeld by waterleaks@tshwane.gov.za

Bronne: PretoriaFM, Twitter