Agter die weelderige witmure van Klein Kaap Boutique hotel sou die veroordeelde lemnaeler, Oscar Pistorius, glo die kans gekry het om afskeid te neem van sy geliefde ouma Gerti (92.) Huisgenoot het vroeër berig die gedenkdiens vir Oscar se ouma sou volgens Johan van Wyk, familiewoordvoerder, om 09:00 vanoggend plaasvind. Die Klein Kaap Boutique Hotel is ook die waar die komedie-reeks, Hotel, verfilm word.

Dit is nog nie amptelik bekend of Oscar toestemming van die departement van korrektiewe dienste gekry het om sy ouma se gedenkdiens by te woon nie. “Ons het ’n aansoek ingedien en dit word nou verwerk, maar ek weet nie of dit al goedgekeur is nie,” het Johan gister aan Huisgenoot bevestig.

Geen media is toegelaat om die gedenkdiens by te woon nie. Huisgenoot het van vanoggend af buite die gastehuis wag gehou om te sien of Oscar sy opwagting sou maak.

Drie polisiekarre en ’n ongemerkte kar het ook gedurende die diens verby die gastehuis gery.

Volgens ’n ingeligte bron is daar ’n versteekte ingang agter die gastehuis waar die Pistorius familie moontlik ingegaan het. Indien Oscar die diens bygewoon het, sou hy ook glo hierdie ingang gebruik het.

Ouma Gerti is Oscar se oom Arnold en sy pa, Henke se ma gewees.

Dit is nog nie duidelik wanneer ouma Gerti se begrafnis gaan wees nie.