Luidens berigte is 'n vlieënier van Saudia Airlines Dinsdag sowat 32 km van die lughawe in Manilla gewaarsku dat vlug SV872 onder bedreiging is. Die vliegtuig het vroeër vanaf Jeddah, Saoedi-Arabië, vertrek en het 15:00 plaaslike tyd geland. Dit is onmiddellik in afsondering geplaas. Luidens berigte is daar 300 passasiers aan boord. Die meeste keer terug ná die jaarlikse pelgrimstog na Mekka.

Kort nadat die situasie bekend geraak het, is die passasiers se naasbestaandes op die lughawe ingelig oor die voorval.
Teenkapingspersoneel het die vliegtuig na bewering omring.

Hoewel die aanloopbaan nie gesluit is nie, was daar wel vlugvertragings weens die voorval.

Van die passasiers is nou besig om die vliegtuig te verlaat. Een van die passasiers se familielede, Sharief Macabando, het glo intussen kontak gemaak met hulle aan boord. Hy dui aan dat almal oukei is.

Die plaaslike nuusagentskap ABS-CBN News het met Lavi Macabando aan boord van die vliegtuig gesels. Volgens Lavi lyk alles normaal binne-in die vliegtuig.

Dié video is glo aan boord van die vliegtuig geneem.

Nadat byna twee uur verloop het sedert die vliegtuig in afsondering geplaas is, het die lugredery aangekondig dat dit 'n vals alarm was.
Daar word ook beweer dat van die passasiers aanvanklik teruggehou is vanweë moontlike onreëlmatighede met paspoorte. Sommige Indonesiese passasiers gebruik glo Filippynse paspoorte.