Die soektog na die wrak van MH370 word deur stormweer bemoeilik

Dit dra by tot die soekers se frustrasie nadat nuwe satellietbeelde die hoop op ’n deurbraak laat opvlam het. Dit was die tweede opskorting binne drie dae nadat vliegtuie en skepe van talle lande wat soek na bewyse dat die vliegtuig wel in die suidelike Indiese Oseaan neergestort het, moes worstel teen sterk winde en bergagtige golwe. “Vandag se soektog is gestaak weens gure weer,” het die Australiese Maritieme-veiligheidsowerheid getwiet. Hulle koördineer die soektog.

'Alle vliegtuie keer terug na Perth en die skepe verlaat die soekgebied.'

“Alle vliegtuie keer terug na Perth en die skepe verlaat die soekgebied.”

Die Maleisiese owerheid het Woensdag gesê beelde wat onlangs deur ’n Franse satelliet geneem is, toon “122 potensiële (drywende) voorwerpe”. Tog is nog niks gekry wat die vliegtuig se lot kan bevestig nie.

Die Boeing 777 het vermoedelik op 8 Maart in die Indiese Oseaan neergestort nadat dit van sy roete (Kuala Lumpur na Beijing) afgewyk en blykbaar ure lank in die teenoorgestelde rigting gevlieg het.

Die Maleisiese owerheid glo die vliegtuig is met opset deur iemand aan boord van sy roete gedwing, maar niks anders is bekend nie.

Die Australiese Maritieme-veiligheidsowerheid het vroeër gesê die nuwe beelde is geneem in ’n gebied sowat 2 500 km suidwes van Perth; dis een van die gebiede waarin die vliegtuig kon neergestort het.

Ses militêre vliegtuie van Australië, China, Japan, en Amerika was veronderstel om Donderdag saam met vyf burgerlike vliegtuie uit te vlieg na twee soekgebiede wat altesaam 78 000 km2 beslaan.

Vyf Australiese en Chinese skepe sou ook dié gebied ook opnuut deursoek het.

Die soektog is Dinsdag ook tydelik opgeskort weens gure weer. Daar heers nou groot kommer omdat die sein wat die vliegtuig se vlugopnemer uitstuur, binnekort gaan stil raak.

Die data op dié vlugopnemer bevat belangrike inligting, wat die raaisel van die vlug kan help oplos. Die sein wat dit uitstuur, hou binne twee weke op.

Dié drama speel af in ’n oop stuk see wat die Australies eerste minister, Tony Abbott, beskryf as “omtrent so na aan nêrens as kan kom”. Die gebied is bekend vir stormsterk wind en hoë golwe.

Die nuwe satellietbeelde wat deur die Europese lugvaartreus Airbus verskaf is, toon voorwerpe van tot 23 m lank, sê Maleisië se vervoerminister, Hishammuddin Hussein.

Bekommerde naasbestaandes van passasiers en bemanning wag in spanning op afdoende bewyse, terwyl die lugvaartbedryf ook hoop dit kan een van hul grootste raaisels help oplos.

Die Amerikaanse regsfirma Ribbeck Law Chartered International het Woensdag die eerste van vele verwagte regsgedinge namens die naasbestaandes aanhangig gemaak. Dié firma spits hulle toe op Malaysia Airlines en Boeing.

Hul hoof van lugvaartlitigasie, Monica Kelly, het aan joernaliste in Kuala Lumpur gesê: “Ons gaan ’n regsgeding van miljoene dollar vir elke passasier aanhangig maak, gegrond op vorige, soortgelyke sake.”

’n Afsonderlike verklaring deur die firma, wat Dinsdag ’n hofgeding in die Amerikaanse deelstaat Illinois voorgelê het, beweer die twee maatskappye “is verantwoordelik vir die vliegramp”.

Malaysia Airlines het geweier om in detail kommentaar te lewer.

Maleisië het vandeesweek gesê satellietdata toon dat die vliegtuig in die see neergestort het, moontlik nadat sy brandstof opgeraak het.

Naasbestaandes

Passasiers en bemanning se naasbestaandes wag al amper drie weke op antwoorde.

Twee derdes van die passasiers is Chinese burgers, en hul naasbestaandes het Maleisië sterk veroordeel; hulle verdink die regering en lugredery van ’n toesmeerdery en knoeiwerk met die ondersoek. Die Nieu-Seelandse passasier Paul Weeks se suster het Donderdag haar kritiek uitgespreek. “Dis alles uiters swak hanteer; hulle is ongelooflik onsensitief,” het Sara Weeks aan Radio Live in Nieu-Seeland gesê.

'Die Maleisiese regering en die lugredery; albei was net ongelooflik swak.'

“Die Maleisiese regering en die lugredery; albei was net ongelooflik swak.”

Talle Chinese naasbestaandes het Dinsdag buite die Maleisiese ambassade betoog, en ’n dag later het die premier, Li Keqiang, Maleisië aangespoor om “meer Chinese deskundiges” in die ondersoek te gebruik.

Terwyl Maleisië glo die vliegtuig is opsetlik van sy roete gedwing, sluit ander moontlikhede in ’n kaping, sabotasie deur die vlieënier en ’n krisis wat die bemanning lamgelê en die vliegtuig se outomatiese vlieënier aangelos het, tot die vliegtuig se brandstof opgeraak het.

Die fokus was ook op die vlieënier, kapt. Zaharie Ahmad Shah, en die FBI het Woensdag gesê hulle is amper klaar met ’n ontleding van die data op ’n vlugnabootser wat by sy huis gekry is.

Maleisië het die FBI se hulp ontbied om lêers te herwin wat van die hardeskyf uitgevee is.

Daar het tot dusver nog geen inligting aan die lig gekom wat die kaptein of iemand anders impliseer nie.