[caption id="attachment_139385" align="alignnone" width="600"]Foto: Publicdomainpictures.net Foto: Publicdomainpictures.net[/caption]

Dié storm, wat oor die Indiese Oseaan beweeg en Dineo heet, gaan na verwagting in ’n tropiese sikloon ontaard. Teen Woensdagoggend kan die wind teen tussen 118 en 165 km/h waai, het die Suid-Afrikaanse weerdiens Dinsdag in ’n verklaring gesê. Die storm gaan na verwagting daarna vererger. Teen Woensdagmiddag gaan die wind tussen 166 en 212 km/h waai. Teen Woensdagnag sal die storm na verwagting dele van Suid-Afrika en Mosambiek bereik. “Suid-Afrika kan die reën van dié tropiese stelsel Donderdag in die Laeveld verwag. Dit sal Vrydag wes beweeg.”

Inhambane in die suide van Mosambiek sal ook reën kry. Gedeeltes van die Krugerwildtuin kan ook kwaai buie verwag, wat kan lei tot vloede. Dit gaan egter nie so erg wees soos in die suide van Mosambiek nie, het die weerdiens in ’n verklaring gesê.

Volgens die weerdiens is daar nog baie onsekerheid oor presies waar die storm Suid-Afrika gaan bereik en hoe erg die uitwerking gaan wees. Maar die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga en die Vhembe-distrik in Limpopo sal na verwagting geraak word, en daarna ander dele van Limpopo.

Die storm gaan eers in ’n tropiese sikloon ontaard sodra dit die land bereik.

“’n Tropiese sikloon word verbind met baie sterk, verwoestende winde en ’n oplewing van storms langs die kus,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal die weerdiens die storm monitor en gereeld inligting daaroor uitreik. Mense word aangemoedig om weerberigte dop te hou.

Die sentrale, suidoostelike en oostelike dele van Suid-Afrika kan Dinsdagmiddag verspreide donderbuie verwag. Die suidoostelike dele van Mpumalanga en die noordelike gebiede van KwaZulu-Natal kan ook Dinsdag swaar reën verwag.