Nog ’n kouefront wat besig is om die Wes-Kaap te bekruip, sal inwoners Saterdag laat bibber en beef. Dit is ook dié einste kouefront wat die belofte van nog reën oor die Skiereiland inhou.


DIE WES-KAAP

Volgens WeatherSA gaan die Moederstad Saterdag ’n maksimumtemperatuur van 15°C bereik en is daar ’n 80 persent kans op reën. Winde wat byna stormsterk gaan waai, word ook Saterdag verwag, het die Suid-Afrikaanse weerdiens in ’n verklaring gewaarsku.

Daar is ’n waarskuwing vir brandgevaar uitgereik.

Stormsterk winde word in die suidelike binneland van die Noord-Kaap asook in die Karoo en gedeeltes in die Eden-distrik voorspel.

Daar is ’n waarskuwing vir brandgevaar uitgereik in die noordelike en oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die oostelike gedeelte van die Wes-Kaap, westelike en noord-westelike gedeeltes van die Oos-Kaap en die westelike gedeelte van die Vrystaat.

Sondag is daar ’n 30 persent kans op reën en gaan die maksimumtemperatuur weer net 15°C wees. Dit gaan na verwagting ’n bewolkte dag wees.

VRYSTAAT

In Bloemfontein gaan die minimumtemperatuur 0°C wees en die maksimum later die dag die kwik by 20°C laat draai. Sondag gaan dit nog kouer wees wanneer die maksimumtemperatuur 18°C is.

GAUTENG

In Gauteng kan Johannesburgers ook maar die komberse nader trek. Die maksimumtemperature wat vir die naweek verwag word, is 17°C en 18°C vir Saterdag en Sondag.

In Pretoria is die maksimumtemperature ook 18°C en 19°C vir Saterdag en Sondag onderskeidelik.

KWAZULU-NATAL

Strandgebiede in Durban is reeds Vrydag vir die volgende paar dae gesluit nadat hoë deinings deur die Suid-Afrikaanse weerdiens voorspel is.

Daar is egter die belofte van warm dae op pad vir dié deel van die land.