Die massiewe sneeustorm wat Amerika getref het en bekend staan as Storm Jonas, het dusver vanaf 22 tot 24 Januarie 2016 geweldige skade en lewensverlies tot gevolg gehad.

New York en Washington is geheel en al lam gelê deur die onverbiddelike wit massa. In 11 deelstate is 'n noodtoestand afgekondig en minstens 19 mense het tot dusver gesterf.

'n Geraamde 85 miljoen mense is deur Storm Jonas, ook nou bekend as Snowzilla en Snowmageddon, getref. Meer as 200 000 is in hierdie stadium sonder elektrisiteitstoevoer.

Lees ook: Verskeie brande woed in die Wes-Kaap

Ook vlugte is geraak met sowat 10 000 vlugte reeds gekanselleer. Die getalle mag nog verder groei. Selfs vlugte vir Maandag, 25 Janaurie 2016 is ook reeds gekanselleer.

Lees ook: Redding waar krane leegloop

Volgens The Telegraph het die storm 56 cm sneeu in Washington en bykans 64 cm sneeu in New York se Central Park losgelaat. Dit is die hoogste hoeveelheid sneeu sedert daar in 1896 begin is om rekord van sneeuvalle te hou. Nou is die monsterstorm Storm Jonas glo sterk oppad om die Atlantiese Oseaan oor te steek op pad na Brittanje.

Bronne: weather.com, nydailynews.com, telegraph.co.uk

- Annelene Oberholzer