Wat sê die wetenskap?     

  • Britse neurosielkundiges meen kinders se aandagsomvang, balans en koördinasie word in die eerste 36 maande van hul lewe ontwikkel, en dat kinders dus in hierdie stadium soveel moontlik moet beweeg. Om heeltyd in ’n stootwaentjie te sit kan hierdie ontwikkeling belemmer.
  • Kanadese pediaters het in 2011 bevind een uit twee kleuters word meer in ’n stootwaentjie rondgestoot as wat hulle buite speel, en dat dit bydra tot vetsug onder kleuters.
  • Navorsers in Skotland sê stootwaentjies wat vorentoe kyk, beperk die kontak tussen ’n ma en kind en belemmer interaksie en kommunikasie.

Maar wat sê ons kenners – en hoe lank is te lank?

Die ouderdom waarop ’n kind nie meer in ’n stootwaentjie moet ry nie, saai verdeeldheid onder ma’s en kenners, en dit hang van elke ouer af wanneer hulle voel kinders behoort self te stap. Plaaslike pediaters sê kinders wat hoegenaamd self kan loop, behoort nie in ’n waentjie gestoot te word nie.

Ander tekens dat jou kind te groot is vir ’n stootwaentjie, is wanneer sy arms of bene nie gemaklik in die waentjie pas nie.

Is daar uitsonderinge?

Terwyl dit altyd beter is om jou kind soveel moontlik te laat beweeg, is dit met tye makliker om jou kind in ’n stootwaentjie te vervoer, soos wanneer jy haastig is of meer as een kind het wat jou aandag verg.

Vind die balans:

  • Indien moontlik, kies ’n stootwaentjie wat na jou toe kyk pleks van vorentoe. So kan jy en jou kind steeds kommunikeer.
  • As jy jou kind in ’n waentjie moet rondstoot, vergoed daarvoor deur tyd in te ruim vir buite speel en fisieke aktiwiteite.
  • As jou kind ’n waentjie het wat vorentoe kyk, praat gereeld met hulle om kommunikasie aan te moedig.
  • Leer jou kind veiligheidsreëls, al moet hulle in ’n waentjie ry, sodat hulle onafhanklik kan wees en nie bang is om sonder hul stootwaentjie te reis nie.
  • Haal jou kind uit die stootwaentjie sodra julle jul bestemming bereik sodat hulle nie daarin bly sit nie.

Die voordele van ’n stootwaentjie:

  • Dit gee ma’s van woelige kinders gemoedsrus dat hulle veilig is.
  • Dit is nuttig vir uitstappies waar kinders ver moet stap en moeg kan raak.

Die nadele van ’n stootwaentjie:

  • Jou kind beweeg minder.
  • Jy word afgesny van jou kind as hul waentjie vorentoe kyk.
  • Jou kind se onafhanklikheid kan belemmer word.

Nie almal is dik van die lag nie

Die Amerikaner Laura Miller het ’n blog begin waar sy die gek skeer met ma’s wat ouer kinders in stootwaentjies laat ry. Haar blog, Walk, is ’n fotojoernaal van ma’s met kinders wat duidelik te groot is vir hul waentjies en snaakse onderskrifte by die foto’s.

Party ma’s  dink egter nie die blog is snaaks nie, en voel ma’s kan self besluit wanneer ’n kind te oud is vir ’n stootwaentjie. Klik hier om self te besluit wat jy van haar foto’s dink.

-Mieke Vlok

Ekstra bronne: whataboutthechildren.org.uk, ctvnews.ca, apartmenttherapy.com