Sy het haar eers nie veel gekwel toe sy haarself een oggend in 2008, ná 'n lekker makietie die vorige aand, wakker hik nie.

[caption id="attachment_160703" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images[/caption]

Maar ná 'n paar dae, toe omtrent elke denkbare raat teen hik in die hek geduik het, het Danielle Kirkland van Birmingham in die Amerikaanse deelstaat Alabama besluit sy moes dringend hulp kry.

Maar maande later, ná sewe besoeke aan haar algemene praktisyn, was die nou 28-jarig Danielle steeds nie van haar knaende gehik ontslae nie.

Die maande het jare geword... maar steeds wou skynbaar niks onder die son help nie. Die moeder van alle hikaanvalle het Danielle, vandag 'n geestesgesondheidswerker, omtrent van haar kop af gedryf. Dit het behoorlik elke uur van haar bestaan oorgeneem.

By die kollege waar sy nog destyds eers geswot het om verpleegster te word, is sy byvoorbeeld selfs uit die klas gejaag omdat sy so "ontwrigtend" was.

Sy kon dit natuurlik nie verhelp nie, het sy vertel. "Ek kon bloot nie ophou hik nie.''

By 'n ander geleentheid het sy by 'n vriendin se ma se begrafnis verskriklik begin hik, net mooi toe die lofrede voorgedra word. En die gemeente kon toe ook nie hul lag onderdruk nie. "Gelukkig het my vriend nie omgegee nie. Dit het dinge lighartiger gemaak.''

Ook op romantiese afsprake sou die gehik soms op die mees ongeleë tydstip handuit ruk. En party ouens het Danielle selfs daaroor gespot. Gelukkig het sy intussen 'n agtermekaar ou ontmoet: Scott McCracken, 'n farmaseutiese tegnikus met wie sy nou drie jaar uitgaan.

Ses maande nadat die probleem in 2008 onstaan het, is Danielle met chroniese hik gediagnoseer. Ja, daar is inderdaad so 'n aandoening op byvoorbeeld die Amerikaanse National Institutes of Health se lys van rare toestande.

Eers agt jaar later...

Maar dit was net die begin van 'n baie lang pad. Danielle het by van maag- en oor-, neus-, en keel- tot longspesialiste gaan draai voordat daar ná sowat agt jaar uiteindelik 'n kuur gevind is wat vir haar werk: 'n soort spierverslapper.

Die middel het eers ná omtrent 'n maand se gebruik begin werk, maar toe dit eers inskop het dit vir haar ongelooflike verligting gebring: die gehik het net ses of sewe keer per dag begin kop uitsteek, waar dit haar voorheen omtrent elke tien minute oorval het.

Sy begin nou wel weer omtrent dadelik hik as sy nie haar medikasie neem nie. "Maar ek's basies weer terug by normaal. Die gehik ontwrig nie meer pal my lewe nie...'' As sy deesdae iemand anders hoor hik, wil sy omtrent die horries kry. "Ek genoeg hikslae agter die blad om my 'n leeftyd te hou.'' Sy vermoed haar probleem kan verbind word met 'n kombinasie van middels wat sy teen vroeë artritis gebruik het; iets wat deur dokters as 'n moontlikheid bevestig is, hoewel 'n hikprobleem van dié omvang uiters seldsaam is.

Bronne: Facebook, twitter, dailymail.co.uk, mirror.co.uk, oaklandtimes.com, nih.gov