Mochi is ’n koekie gemaak van saamgepersde rys wat gewoonlik in groot hoeveelhede oor die feestyd, veral op Nuwejaarsdag, in Japan geniet word. Dit word gewoonlik geniet saam met sop of gerooster saam met soet sous en toegedraai in seewier.

Maar elke jaar sterf verbasend baie mense wanneer hulle verstik aan dié lekkerny. Hoewel Japannese owerhede elke jaar die publiek waarsku om hul mochi versigtig te eet en deeglik fyn te kou, blyk dit steeds ’n tameletjie te wees vir party om af te sluk.

Veral ouer lede van die publiek is geneig om te verstik. Gelukkig het ’n Japannese maatskappy hier ook nou ’n geleentheid in die mark raakgesien.

Shin-Ei Industries in Tokyo het die wêreld se eerste draagbare keelsuigmasjien ontwerp. Dit werk heel eenvoudig: Sou iemand langs jou begin stik, word ’n spesiaal gemaakte buis aan die punt van jou stofsuier monteer.

Die buis word in die verstikkende mens se keel afgedruk en die blokkasie word uitgesuig.

Hoe gerieflik hierdie proses is, wil Shin-Ei nie op uitbrei nie. Maar ’n bietjie ongerief is seker beter as die alternatief.

Bronne: www.theguardian.com, http://gizmodo.com/