Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige, gee hierdie slim wenke in vennootskap met Myslimkind, ’n nuttige ouerskapsplatform wat kinders se vroeë ontwikkeling aanhelp.

1. Speeldeeg is ’n opvoedkundige superster. Dit help handspiere versterk en laat jou kind hul kreatiwiteit en verbeelding verken. Meng verskillende kleure speeldeeg saam om jou kind kleurteorie te leer. Terwyl hulle die speeldeeg vorm, verken hulle verskillende vorms. Boonop is dit baie maklik om te maak. Kry ’n resep (kyk by www.instructables.com/id/How-to-Make-Playdough-Play-doh) en laat jou kind jou die deeg help maak. Dit sal hulle van konsepte soos mates, hitte en smeebaarheid help leer.

2. Legkaarte versterk jou kind se visuele ontledings- en samevoegingsvaardighede, hand-oog-koördinasie, fyn motoriese vaardighede en konsentrasie.

3. “Ek sien” is waarskynlik die heel maklikste speletjie, want dit verg geen voorbereiding of toerusting nie. Sê byvoorbeeld: “Ek sien iets wat met ’n ‘b’ begin,” (onthou om die fonetiese klank te gebruik, byvoorbeeld ‘buh’) en laat jou kind raai wat dit is. Julle kan dit in die motor speel of terwyl julle inkopies doen. Dit sal bydra tot jou kind se groterwordende woordeskat en hul vermoë om te luister slyp.

4. Badtydpret. Voeg ’n takkie roosmaryn, kruisement of laventel by jou kind se badwater om hul reuksintuig te help slyp, of ’n paar druppels voedselkleursel om kleurteorie te leer. (Vermy veiligheidshalwe aromaterapeutiese olies, want net sekeres in sekere verdunnings is veilig vir kinders.) Voeg plastiekspuite (sonder die naald) by om handspiere te help versterk. Leer jou kind seepborrels blaas om die fyn spiere in hul hande en rondom hul mond te versterk.

5. Bou ’n hindernisbaan met wat jy ook al byderhand het. Jou kind sal dol daaroor wees om hul pad deur die hindernisbaan oop te kruip, spring, gly, wip, balanseer en wriemel. Dit sal hul groot (motoriese) spiere versterk en hope sintuiglike insette laat ontvang.

Besoek www.mysmartkid.com of www.myslimkind.com, of bel 0861-555-224 vir nog inligting.