Hier is ’n paar van Little Bo Babies se wenke oor hoe om jou kleuter te stimuleer, veral in die wintermaande wanneer ons almal ’n bietjie inspirasie nodig het.

Vloertyd

Dis heel eenvoudig: Jy sit op die vloer en speel met jou kind.

Hier is ’n paar lekker dinge om op die vloer te doen:

  • Rol ’n bal heen en weer na mekaar toe.
  • Bou. Alles van Lego’s tot torings en stapels. Boublokke is wonderlik vir logika, wiskunde, orde en groepering en fyn motoriese vaardighede.
  • Speel met gestopte speelgoed. Enigiets wat julle albei se interaksie, gesprekvoering en gefokusde aandag verg, is goed.
  • Speelgoedmotortjies. Julle kan met boublokke ’n “baan” bou om op resies te jaag.

Tafeltyd

Om jou kind aan tafel op ’n gewone stoel te leer sit kan hulle die tipe selfdissipline leer wat hulle later goed te staan sal kom. Om te leer stilsit moet eerder ’n “gawe” as ’n vaardigheid genoem word.

’n Paar lekker goedjies om in hierdie tyd te doen:

  • Legkaarte: Dis fantasties vir logika, wiskunde en ’n sin van prestasie. Penbordlegkaarte is wonderlik vir klein vingertjies, en wanneer jou kinders ouer word, kan jy hulle ingewikkelder legkaarte laat bou.
  • Modelleerklei: Dis goedkoop en maklik om te maak.
  • Teken: Vetkryt is wonderlik vir klein vingertjies. Bordkryt is ook lekker.
  • Verf en vingerverf.
  • ’n Teepartytjie met jou en die poppe.

Buitetyd

Skeduleer elke dag ’n bietjie buitetyd; dit verrig wondere vir verbeelding en gesondheid.

Hier is ’n paar lekker dinge om te doen, al is dit koud buite:

  • Maak ’n wasbak vol seepwater en laat hulle hul teeset “was”. Dis oukei as hulle nat raak; dis deel van die leerproses.
  • Waterverf: Laat hulle met ’n verfkwas en water op ’n buitemuur “verf”.
  • Sypaadjiekryt: Skep buite kuns.
  • Skop ’n bal rond.
  • Klim ’n boom.
  • Speel vang-vang.
  • Hou piekniek.
  • Speel wegkruipertjie.
  • “Kampeer” met ’n komberstent of ’n regte tent.

Uitstappietyd

Die meeste ma’s probeer die inkopies klaarkry voor hulle hul kinders by die skool of nasorg optel, want dis soveel makliker.  Ongelukkig beteken dit baie kinders loop die kans mis om hierdie vaardighede aan te leer:

  • Sosiale vaardighede: Vra jou kind om te glimlag en die kassier te groet en die pakker te bedank.
  • Taakvolgorde en -voltooiing: Hulle gaan sien jy het ’n inkopielys, jy hou by die lys en verlaat die winkel met die items op die lys.
  • Hulle gaan leer verskillende reëls is op verskillende plekke van toepassing: Die winkel, kerk, ouma se huis en biblioteek het almal verskillende reëls wat ons moet gehoorsaam.

Jy hoef nie elke dag kruideniersware te koop nie; vind dus ander dinge om buite die huis te doen:

  • Besoek die biblioteek.
  • Kuier by familie of vriende.
  • Gaan park toe.

Verveeld-tyd

Dis ’n snaakse een, nè? Moenie jou kind elke minuut van elke dag stimuleer nie. Verveling is die moeder van kreatiwiteit. Omarm dit. Beplan dit indien nodig.

-Gaya, Little Bo Babies

Gaya van Little Bo Babies ’n die ma van ’n tweeling. Sy bedryf ’n aanlyn winkel wat babaprodukte en raad aan nuwe ma’s verskaf. Stuur ’n e-pos na gaya@littlebobabies.com vir nog wenke en idees.