Hy was ook 'n haarstilis en grimeerkunstenaar vir plaaslike sterre soos Mimi Coertse en Amor Vittone. Nou span hy sy skerp reuksin in om sy eie parfuum te meng.

Van met ’n Porsche ry tot met ’n wit stok loop. Dis hoe die ommeswaai in Oelof se lewe beskryf kan word. Hy het 12 jaar gelede blind geword weens kanker en ’n mislukte katarak-operasie.

Voor dit was hy een van Suid-Afrika se voorste stelkunstenaars en het hy onder andere saam met Dawie Roodt by die kykNET-program Ontbytsake gewerk. 

Hy was ook 'n haarstilis en grimeerkunstenaar vir mense soos Mimi Coertse, Robyn Poole, Amor Vittone, Nimrod Nkosi en Chanté Hinds. Hy was selfs betrokke by Amor en Joost van der Weshuizen se troue. Hy het uitrustings gemaak en hare en grimering behartig.

“Amor het my al gekontak. Ek wou graag by Joost uitkom,” vertel hy.

Joost en Amor. Foto: Facebook

Oelof was selfs al by ’n troue in die Kaapstad waar Michael Jackson die bruid ingebring het. “Ek het nie met hom gesels nie. Hy was net daar en weer weg, maar ek was deel van die sonderlinge ervaring.”

Op ’n tyd was hy die voorste visuele kunstenaar op TV, in opera en teaterstukke. Maar toe hy sy sig verloor, het hy byna alles verloor. Sonder sig kan jy nie mooimaak nie.

Maar toe hy sy sig verloor, het hy byna alles verloor. Sonder sig kan jy nie mooimaak nie.

So het hy gedink . . . tot hy die wonder van parfuum ontdek het. Noudat hy nie meer kan sien nie, het sy reuksintuig verbeter en kan hy dit gebruik om steeds kreatief te wees.

Destyds was sy huis gereeld op TV danksy die keurige binnenshuise versiering. Vandag woon hy by vriende in Johannesburg. Hy moes lank oorleef op ’n ongeskiktheidspensioen van R1 300. Byna almal het van hom vergeet, voel hy soms.

“Mense om jou verander, jou vriende raak vervreem, want jy is nie meer die mens wat jy voorheen was nie. Toe ek sowat 11 jaar gelede blind word, het baie mense my begin vermy en ál minder kontak gemaak. Hulle dink dit het my persoonlikheid verander. Ek dink nog 100 persent soos ’n siende mens,” vertel hy.

Gelukkig het hy nuwe vriende gemaak.

“Ek het ’n baie beter mens geword, want nou sien ek mense vir die eerste keer regtig soos hulle is omdat ek op hul gedrag en persoonlikheid fokus. Dit gee hul persoonlikheid totaal en al weg.

“Ek het ’n gesegde: ‘Toe ek kon sien, was ek blind, en noudat ek blind is, nou kan ek sien.’ Dit is hoe dinge vir my werk; ek sien met die eerste ontmoeting dwarsdeur mense.”

Hul aura gee hulle weg, veklap hy, en hy kan aanvoel wie is opreg. “Hulle sal nooit weet ek raak van dinge bewus nie, want my blindheid het my emosieloos gelaat. Partykeer is dit maklik om nie vir mense te wys wat ek voel of ‘sien’ nie.”

Deur die Envision-projek samel vriende nou geld in sodat Oelof na verneem word die eerste mens in Afrika kan wat in Amerika ’n stamseloperasie ondergaan om die sig in albei sy oë te herstel.

“Ek kan ’n pionier wees. Dit kan baie beteken vir die land,” meen hy. “Die kans is 5 persent dat ek my sig kan terugkry,” vertel Oelof.

Die prosedure is reeds goedgekeur deur dr. Steven Levy van Florida, Amerika. Dit sal Oelof egter honderdduisende uit die sak jaag.

“Ek is nog hier. Ek het nog ’n doel en ’n toekoms.”

Oelof sien dit egter net as nog ’n uitdaging tussen al die ander.

Hy steun sterk op die fondament van hoop en optimisme. Hy put ook krag uit al die lieflike geure waarmee hy toor in die werkkamer wat die weldoeners by wie hy woon vir hom ingerig het.

“Ek is nog hier. Ek het nog ’n doel en ’n toekoms,” stel hy dit duidelik.

As kind het hy baie belanggestel in als wat met kuns te doen het. Hy was gedurig besig om iets aanmekaar te sit - of dit nou klere of meubels was.

“Daar was altyd ’n groot dryfkrag om dinge om my te verbeter en mooi te maak,” vertel hy.

Ná skool het hy teaterkunde studeer en meer te wete gekom oor beligting, kostuum- en dekorontwerp en verhooggrimering. Hy het ook geleer hoe om pruike te ontwerp, maak en stileer. Hy het ook navorsing gedoen oor haarstyle uit spesifieke periodes. 

“Om my verder insig te gee, het hy ook ’n kursus in haarkappery gedoen. My belangstelling het gelê by teater en films. Dis moeilik om jou voet in die deur te kry as jy geen vorige ondervinding het nie.”

Sy eerste kennismaking met teaterwerk was toe ’n haarstilispos opgaan by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK). Sy destydse departementshoof het bedank en hy moes die leisels oorneem.

“Daar was altyd ’n groot dryfkrag om dinge om my te verbeter en mooi te maak.”

“Ek het met verskeie groot operasterre oor die wêreld heen gewerk toe hulle Suid-Afrika besoek, onder andere Mimi Coertse.

“Sy het my ’n baie groot kompliment gegee, iets wat ek nie sal vergeet nie. Sy het gesê dit is die eerste keer ooit dat sy nie met 'n optrede in Suid-Afrika oor en oor haar pruike en grimering moet laat toets nie. Ek het gedoen waaraan sy gewoond was in Wene en ander groter opera-stede.”

Toe hy by  TRUK  weg is, het ’n vriendin hom 'n werk aangebied as privaat sekretaris vir een van die direkteure van Auto&General in Johannesburg. “Ek was glad nie rekenaarvaardig nie en kon nie tik nie,” onthou hy.

In dié tyd het hy ’n oproep gekry van ’n vriend wat by die SAUK aan ’n groot produksies gewerk het. "Hy het gevra of ek oor ’n naweek ’n produksie saam met hulle wil aanpak.

“Hulle het iemand met teaterondervinding nodig gehad vir 'n internasionale groep, Simply Red. Dit was net voor ons eerste demokratiese verkiesing.

Hulle het ’n spesiale opname kom maak.”

Twee weke later was hy verras toe hy die regisseur van die program hom bel en vra hy moet hulle kom sien. Hulle was so beïndruk met die eindproduk dat hulle hom ’n vryskutpos by die SAUK aangebied het.

Oelof moet nou met 'n witstok oor die weg kom nadat hy blind geraak het. Foto: Rowyn Lombard

Televisie is tydgebonde, veral kontinuïteit, vertel hy. Dit was regstreekse uitsendings en 'n mens moet dit binne 'n sekere tyd afhandel.

Daarna het hy ’n aanbod gekry om ’n kontrak met SABC3 te teken, wat beteken hy moes al hul kontinuïteitaanbieders se stilering (hare en klere) en grimering behartig.

Daarna het nog twee groot kontrakte gevolg, met SABC2 en SABC1.

Mettertyd het Oelof baie groot kontrakte gesluit met die Suid Afrikaanse Lotto, en dis hoe hy Amor, destyds 'n aanbieder daar, en Joost leer ken het.

Hy het ook sy hand aan binnenshuise versiering gewaag.

“Ek het ook meubels begin invoer van Indonesië en my huis in Saxonwold ingerig as ’n vertoonlokaal met antieke meubels en Persiese matte. Ek het in die huis verskillende kunsuitstallings gehou, en dit het voete gelok na my binnenhuiseversieringsdienste.”

Later het Oelof ’n fabriek begin wat aanddrag en trourokke gemaak het. Hy vertel hy het aan verskeie kykNET- en M-Net-produksies gewerk en was betrokke by die Mej. Suid-Afrika, Mej Wêreld en Mej. Heelal.

Hy vertel hy het nooit skuld gemaak nie. Hy het vir hom antieke meubels gekoop wanneer hy dit kon bekostig en ’n nuwer motor soos die paaiemente afbetaal is.

"Dit was ’n dag wat my hele lewe verander het."

“Ek het van vroegoggend tot laataand gewerk tot die dag dat my oë ingegee het. My hele lewe het verander. Dit was angswekkend, want dit het nie stelselmatig gebeur nie.”

Weens kanker het hy 2004 blind geraak in sy regteroog. Toe ’n katarak van sy linkeroog verwyder is, het die retina weens komplikasies losgetrek.

“Ek het een oggend opgestaan en my gesig gewas. Toe ek in die spieël kyk, kon ek niks sien nie.”

Julie 2005 was sy laaste maand by kykNET. Hy het dadelik by ’n kollege vir blindes in Pretoria aangesluit en ses maande voltyds geleer om as blinde rekenaarvaardig te raak en aan te pas by 'n lewe sonder sig. Hy moes homself byvoorbeeld ook leer om deur teksture sy klere uit te kies.

Met die parfuum, dink hy steeds in kleur. “Ek kan my voorstel by watter kleure en klere jy ’n spesifieke parfuum kan dra,” vertel hy. En hy bly vasklou aan die droom dat hy behulp van 'n stamseloorplanting weer sal kan sien en eindelik weer sy eie huis kan hê om met skoonheid te vul.

Om met Oelof kontak te maak oor sy parfuum of vir meer inligting stuur ’n e-pos na fragrance.emporio22@gmail.com.