Dit is die eerste keer in meer as 30 jaar dat ’n Spaanse vegter deur ’n bul doodgegaffel word.

Víctor Barrio (29) is laat Saterdagmiddag dood verklaar na die bul hom met sy horing in die heup gesteek het.

WAARSKUWING: DIE VIDEO KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL

Terwyl Víctor magteloos op die grond gelê het, het die bul hom vir ’n tweede keer in sy bors gesteek. Sy horing het Víctor se long binnegedring.

’n Bewustelose Victor is na ’n plaaslike hospitaal gehaas, maar tevergeefs.

Die wrede manier waarop Víctor deur die bul se hroings gegaf is, is regstreeks op televisie uitgesaai.

Volgens die Daily Mail was Víctor se vrou, Raquel Sanz, ook in die gehoor en het haar man se dood aanskou.

Medelye vir Raquel het op sosiale media ingestroom. Die 32-jarige het ondersteuners op Twitter bedank, maar erken sy is te geskok om iets meer te sê. “My lewe is verby. Ek het nie meer krag nie,” het sy geskryf. " Sy het ook ’n boodskap aan haar man op Twitter gedeel: “Ek is seker daar waar jy is, het jy ’n besonderse uitsig.” Almal was egter nie ewe simpatiek oor Victor se dood nie. ’n Ene Ben Fogle het byvoorbeeld laat hoor: “Ek hoop die dood van die matador Víctor Barrio gaan eindelik ’n einde bring aan bulgevegte.”

’n Ander Twitter-gebruiker, Sarah-Jane Crawford, skryf weer: “Ja, dis hartseer dat die matador Víctor Barrio voor sy vrou doodgemaak is, maar kan ons nou ophou met die marteling van bulle?”
Rachel Cavers skryf weer: “Bulgevegte is wreed en ’n walglike daad en hopelik sal die dood van #VictorBarrio help met die ondergang van dié ‘sport’.”

Víctor is Maandag ter ruste gelê. Sy begrafnis is deur duisende roubeklaers bygewoon.

Die laaste matador sterfte in Spanje was toe Jose Cubero Yiyo in 1985 in Madrid gegaffel is.

Bronne: Daily Mail, Esquire.com