Amerika - 'n Vrou van die Amerikaanse deelstaat Alabama is die eerste vrou in die Mobile County-distrik wat die doodstraf opgelê is.

Dit volg nadat Heather Leavell-Keaton in 2010 haar maat gehelp het om sy twee jong kinders te vermoor, berig AL.com

Haar maat, John DeBlase, is reeds in 2014 ter dood veroordeel vir sy kinders Natalie (4) en haar boetie, Chase (3) se dood.

Heather is net vir Chase se dood van moord aangekla nadat die hof beslis het sy is net weens nalatigheid aanspreeklik vir Natalie, se dood.

Skokkende besonderhede het in die hof aan die lig gekom, soos dat Natalie in Maart 2010 verwurg is nadat sy met maskeerband vasgebind en in 'n reistas binne-in 'n hangkas gehou is.

Haar lykie is later in 'n bebosde gebied gevind.

Haar broer is weer aan 'n besemstok vasgebind en vermoor. Sy lyk is ook in 'n bebosde gebied naby die paartjie se huis gevind.

Heather het boonop vriesweerder by die kinders se kos ingekook in pogings om hulle te vergiftig.

Volgens berigte was sy jaloers op die aandag wat die vierjarige dogtertjie gekry het. Chase is na bewering vermoor kort nadat hy begin vra het waar sy sussie is.

Corrube Heathcock, die twee kinders se ma, het by die verhoor aan AL.com gesê haar kinders is in 'n beter plek.

Aanklaers het Heather as 'n "manipulerende, bedrieglike en moreel versteurde" vrou beskryf.

Lees meer hier

Bronne: New York Daily News, Daily Mail, AL.com