En nee, Steve ry nie in een van sy blink vuurwaens nie. Hy gooi duim. Die sanger ryloop na die moederstad om mense bewus te maak van plaasmoorde.

Hy en die OFM-omroeper Tim Thabethe het die stomme tog aangepak nadat ‘n boer vir Tim uitgedaag het om minder te praat en meer te doen aan plaasmoorde. Hy het onderneem om hulle R10 te betaal vir elke kilometer van hul reis.

Nadat ‘n klompie boere in Holland-trekkers en Harley Davison-motorfietsryers hulle net voor tienuur vanoggend in Bloemfontein afgesien het, het hulle hul eerste geleentheid gekry – tot by die Kerkstraat brug.

Die tweede barmhartige samaritaan wat die duimgooiers opgelaai het, was ene Frikkie van Centurion, in ‘n yslike vragmotor. Hy vat hulle tot op Trompsburg waar ‘n klomp ondersteuners vir hulle donasies gaan oorhandig.

Daarna hoop hulle om ‘n geleentheid tot by Colesberg te kry.

Tim het vroeër hard probeer om Steve te oortuig om ‘n Cheetah-trui te dra. Tim meen dit sal hulle help om vinniger geleentheid te kry, maar die Blou Bul-sanger weier glo botweg.

OFM se hulle het reeds R50 000 ingesamel wat hulle gaan skenk aan AgriSecuritas.