Die gewilde sanger het ook gevra dat sy lisensie nie opgeskort word nie.

Hofmeyr is op 19 Desember 2013 op die N4-Bronkhorstspruitpad in hegtenis geneem, nadat hy 169 km/h in 'n 80 km/h sone gery het. Hy was oppad na 'n vertoning in Badplaas.

Hofmeyr se regsverteenwoordiger, adv. John Sullivan, het aangevoer dat Hofmeyr werklik berou toon vir sy oortreding en dat hy nie met opset die spoedgrens oortree het nie.

“Ek is nie 'n spoedvraat nie en kry nie 'n adrenalien-inspuiting wanneer ek te vinnig ry nie,” het Hofmeyer in 'n beëdigde verklaring gesê.”

Sullivan het bygevoeg dat Hofmeyr ten alle tye sy volle samewerking aan wetstoepassers gegee het.

Hofmeyr het ook gevra dat sy lisensie nie opgeskort word nie, aangesien hy sowat 12 000 km 'n maand op Suid-Afrika se paaie reis om die twaalf vertonings wat hy per maand lewer, by te woon.

“Dit is Hofmeyr se hoofbron van inkomste en hy onderhou onder meer sy ma en vyf kinders daarmee,” het Sullivan gesê.

Landdros Elsie Schnetler het gesê Hofmeyr het werklik berou getoon en dat sy waardering het vir die manier waarop die saak hanteer is. Hofmeyr is R10 000 beboet en sy lisensie is nie opgeskort nie.

Hofmeyr het gesê dat hy tevrede is met die uitkoms van die saak.

Bronne: Beeld, Twitter