Die sanger Steve Hofmeyr se vrou, Janine, sê sy het nou genoeg gehad van “swangerskap-grappies”.

Die donkerkop het verlede Woensdag haar misnoeë op Facebook te kenne gegee toe sy ’n prentjie van ’n gesiggie met ’n onderstebo-duim met haar aanhanger gedeel het.

“Gaan iets oorkom as ek nog een swangerskap-grappie sien! Dis regtig nie snaaks nie,” het sy by die prentjie geskryf.

Haar ondersteuners en aanhangers het dadelik bemoedigende woorde gedeel en gesê sy moet haar nie aan “onsensitiewe” mense steur nie.

“Wanneer die tyd reg is, gaan jy swanger word. God se tyd is die perfekte tyd. Sterkte,” het ene Annemarie Kemp, een van Janine se Facebook-aanhangers, haar moed in gepraat.

“Swak smaak as jy my vra!” het Corrie Pretorius Venter weer laat hoor.

“Hou jou kop hoog en steur jou nie aan die klomp nie. Dit het niks met ander mense te doen nie,” het Vida du Toit geskryf. Nuusbronne het verlede jaar berig dat Steve graag weer sal wil pa word. “Dit vat wel ’n bietjie langer om swanger te raak as wat ons gedink het. Maar ons het albei gegaan vir toetse en ons is vrugbaar en reg vir ’n kind," het die sanger aan Netwerk24 gesê. “Baie dankie vir die gelukwense, maar nee, ek is ongelukkig nog nie swanger nie. Net Rapport wat weer slinks was met hulle misleidende plakkate. Maar ons hoop daars goeie nuus sommer baie binnekort,” het Janine kort ná die onderhoud op haar Facebookblad geskryf. Steve en Janine is in 2014 getroud. Dis nie duidelik wat haar genoop het om die onlangse inskrywing op Facebook te maak nie.