Steve Hofmeyr besef “die tyd stap aan en die lewe is een verganklike gedoente”.

So het die sanger in sosiale media geskryf met dié dat sy “lieflingdogter” hierdie week 29 geword het.

Charissa Albertyn, ’n Engels-onderwyseres in die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel, is die oudste van Steve se vyf kinders.

Sy is in dié stadium sy enigste dogter, maar binnekort gaan daar nog ’n prinses in die gewilde sanger se lewe wees.

Steve en sy vrou, Janine, se eersteling, Romy-Lee, maak in Julie haar opwagting.

En kyk ’n mens na die verhouding tussen Steve en Charissa, weet ons Romy-Lee gaan haar pa se hart laat vermurwe.

Charissa was net twee jaar oud toe Steve vir haar die liedjie Ek Ken Jou Soms skryf. Sy het in 2015 in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel sy sou later verstaan hoe hierdie liedjie die onsekerheid van ’n doodgewone jong pa oor vaderskap verklap (Steve, ’n pa nes ander, 23 Julie 2015).

Van die lirieke lui: Ek ken jou soms / in die nag / as ek bang vir môre wag/ Ek ken jou soms / as ek huil / want jou weg is soms so steil . . .

“Vir my is hy net ’n pa wat nie altyd weet wat om te doen nie en ook foute maak; ’n pa wat net sy bes probeer doen. Vir my is hy net normaal,” het sy vertel.

Hoewel Steve vir baie mense ’n legende is, was hy vir Charissa nog altyd “net my dad”.

Sy het verder gesê dis vir haar veral spesiaal dat Steve haar sagter as die seuns behandel.

“Wanneer ons almal saam is, sal die seuns woelig wees en met mekaar stoei. Ek sal dan eenkant gaan sit. Dan sal my pa by my kom sit en gesels. Of ons sal stilbly en net wees.”

Want eintlik is hy mos tog net ’n pa. En vandeesweek een wat ekstra trots kan wees op sy 29-jarige dogter, wat boonop met sy glimlag spog.