Tussen ’n besige Saterdag waartydens die sanger Steve Hofmeyr geskenke vir behoeftige kinders in Benoni uitgedeel het, ’n goeie vriend se ooievaarstee bygewoon het en sy twee gunsteling-rugbyspanne teen mekaar te staan gekom het in die eindstryd van die Curriebeker-rugbytoernooi, moes hy boonop ook ’n draai in die hospitaal gaan maak.

’n Anonieme bron het ekskluseif aan Huisgenoot vertel Steve was laat vir sy vriend Pieter Smith se ooievaarstee ná hy in ’n ligte motorongeluk betrokke was. "Hy was eers by die hospitaal vir X-strale nadat iemand in Benoni sy geborgde voertuig gestamp het," vertel die bron.

Die bron het nie self Steve se voertuig gesien nie.

“Ek het nie eens geweet Steve gaan by die ooievaarstee wees nie, maar omtrent almal wat sing was daar” vertel die bron verder. Pieter en sy vrou, Yolandi, verwag ’n dogtertjie vroeg in die nuwejaar.

Die kuierplek waar die geselligheid plaasgevind het, Woes Lekker, het ’n foto van Steve op hul Facebookblad gedeel.

Steve was vroeër Saterdagoggend in Benoni waar hy “honderde geskenkies” vir behoeftige kinders uitgedeel het.

“Ons mense het soveel nood. My hart breek, veral vir ons kinders,” het hy op sy Facebookblad geskryf. “Vind die pyn in jou gemeenskap. Hierdie kinders het so min nodig om te glimlag.”

Steve het self nie ’n woord op sy Facebook-blad oor die ongeluk gerep nie. Liza Mulder, wat Steve se dagboek hanteer, kon hom nie Maandagoggend in die hande kry om die ongeluk te bevestig nie.

Steve het wel in die sosiale media gekla ná sy geliefde Blou Bulle Saterdag 36-16 teen die Cheetahs verloor het.

“Ek kan darem vanoggend weer lag. Nee, die ref was okei. Ek's net depressies sonder end. Die Blou-depressie. Maar welverdiend vir die Cheetahs, dit moet gesê word. Julle het gate deur ons gehardloop. Raymond en Sergeal was giftig. Ek glo Bloem was 'n deurnagfees. Hier in Pretoria is ons vroegaand stert tussen die bene huistoe,” het Steve gister op sy Facebookblad geskryf.