Die ewe gewilde Pampoen-sanger en jare lange gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers, Steve Hofmeyr (52), het vandag sy aanhangers op ’n nostalgiese tydreis geneem na 2006, die jaar toe Bobby werklik begin naam maak het, deur ’n video te deel van hulle twee wat saamsing.

In die inskrywing op sy Facebook-blad vertel Steve, toe 42, hoe hy die jong Bobby op die verhoog genooi het om saam met hom die Neil Diamond-treffer Sweet Caroline te sing.

Met dieselfde goeie stem waarvoor ons hom vandag nog ken, maar dalk met ’n tikkie minder selfvertroue, sit die jonge Bobby kiertsregop langs Steve en sing Sweet Caroline luidkeels saam.

Bobby het hoeka sy loopbaan as sanger in 2006 begin en sy debuutalbum, Duisend Ure, in dieselfde jaar uitgereik. Hy het ook daardie jaar die Huisgenoot Tempo-toekenning as beste nuweling ontvang.

Steve se video het omtrent die nostalgie onder sy aanhangers aangewakker. Ene Zerette Treurnicht kan die oomblik nog goed onthou en vertel Steve en Bobby het saam op die Brackenfell-fees gesing. "Dit was ’n stunning show," onthou sy.

Ander het weer die sanger en akteur in Agter Elke Man geprys vir sy onbaatsugtige rol wat hy speel in die bevordering van jong kunstenaars se loopbaan. "Steve, jy laat dit so maklik lyk om ’n goeie woord vir ’n medekunstenaar te doen," skryf Martie du Pisanie. "Dit is so deel van jou dierbare persoonlikheid. Net ’n groot gees wat so iets so gemaklik sal doen. Ek salueer jou daarvoor."

Sedertdien het Bobby nog drie albums uitgereik en ook in talle flieks, televisiereekse en verhoogproduksies opgetree.