Daar kom groot pret in Hartbeespoortdam. Hartiwood Films, die mense agter die Liefling-fliek, is besig om ‘n reuse-stel in die dorpie te bou vir hul nuwe musiekfliek, Pretville, wat in Maart 2012 daar opgeneem gaan word.

Die fliek speel in die 1950’s af en daar is glo ‘n haarkapper, diner, tronk, polisiekantoor en nog vier ander winkels op die stel.

En die vervaardigers het seker gemaak die stel lyk of dit reg uit die vyftigs kom. “Ons het selfs regte-egte Oregon dennehout venster- en deurrame uit die vyftigs in die vertrekke gesit,” vertel Paul Kruger van Hartiwood Films.

Hy het self op die perseel van 1-Millitêre Hospitaal in Pretoria, waar ‘n deel van die ou geboue so vyf jaar terug gesloop is, gaan rondsoek en die rame nog net so daar in die veld opgespoor.

Steve Hofmeyr het klaar laat hoor dat hy een van die rolle in Pretville gaan vertolk en Huisgenoot het ook ‘n voëltjie hoor fluit dat Emo Adams daarin te sien gaan wees.

Volgens Paul het hulle nog nie ‘n aktrise gekies om die hoofkarakter, Serah Somers, te vertolk nie. Maar die karakter het klaar haar eie Facebookblad en daarvolgens is sy ‘n meisie wat hou van die musiekflieks Grease, Oklahoma! en Flashdance.

En g’n wonder nie, Paul vertel Pretville gaan nes dié flieks wees. “Dink hop, skip en bop, dan sal jy weet wat om te verwag.”

Die bekende komponis, Machiel Roets, het reeds al die liedjies geskryf.

Volg Huisgenoot op Twitter.