Malema, EFF-leier, is op die N1 by die Barrage in die Vaaldriehoek in hegtenis geneem toe hy glo in ’n houtskoolkleurige BMW 530d teen 215 km/h in ’n 120 km/h-sone gejaag het.

Hofmeyr is omstreeks 17:00 op die N4 naby Bronkhorstspruit voorgekeer en in hegtenis geneem toe hy glo 169 km/h in ’n 120 km/h-sone gejaag het.

Hy was op pad na die Forever Resort Badplaas vir ’n konsert, Sing, sing jou woorde saam met my.

Die konsert het blykbaar laat begin nadat Hofmeyr op borgtog van R500 vrygelaat is.

Hofmeyr het later in 'n Facebook-inskrywing erken sy optrede was onverantwoordelik en gevaarlik en bevestig dat hy op borgtog vrygelaat is.

Volgens hom was die Bronkhorstspruitse geregsdienaars in beheer "vriendelik, professioneel en deeglik".

Die Gautengse verkeersowerheid, het die inhegtenisnemings gisteraand bevestig en gesê albei mans sal benewens die spoedoortredings ook teregstaan op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur.

Gisteraand laat was daar nog sprake dat die nasionale vervolgingsgesag nie wou hê dat borgtog aan Malema toegestaan word nie weens die hoë spoed waarteen hy glo gery het. Malema was ná middernag nog by die polisiekantoor.

Hy moet vanoggend in die Vanderbijlparkse landdroshof verskyn en Hofmeyr Maandag in die Bronkhorstspruitse landdroshof.

Bronne: Beeld, SAPA