'n Gr. 11-meisie van Limpopo is Saterdagoggend rondom 01:00 wreedaardig met 'n mes in haar bed aangeval. Haar angswekkende gille het haar ouers wakkergemaak. Hulle het die sterwende tiener huilend in 'n plas bloed aangetref. Met haar laaste asemteug kon sy dit regkry om die naam van haar aanvaller bekend te maak. Die meisie het waarskynlik geslaap toe haar aanvaller die huis binnegekom en haar verskeie kere gruwelik met 'n mes aangeval het. Die mes is langs haar lyk gevind.

Die 22-jarige aanvaller is bekend in die omgewing en hy is binne enkele ure in hegtenis geneem. Die motief vir die noodlottige aanval is nog onbekend. Hy sal Maandag in Giyani verskyn op aanklag van moord. Slegs 'n dag vantevore het pres. Jacob Zuma die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme Teen Geweld Teen Vroue en Kinders by Lebowakgomo, Limpopo aangekondig. Dit vind jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaas.
In 2013 het Zelda la Grange, oudpresident Nelson Mandela se privaat sekretaresse, reeds met Huisgenoot 'n sterk boodskap gedeel rondom die jaarlikse veldtog rondom 16 Dae van Aktivisme Teen Geweld Teen Vroue en Kinders: "Hopelik sal iemand luister. Hopelik sal iemand besef dat 16 dae nie genoeg is nie – daar behoort 365 dae van die jaar met geweld teen vroue en kinders afgereken te word!"

Organisasies wat kan help

1. FAMSA (landwyd): Bel 011 975 7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na www.famsa.org.za vir inligting en hulp. 2. Lifeline (24-uur): 0861 322 322. 3. POWA (People Opposing Women Abuse):083 765 1235 of gaan na www.powa.co.za vir meer inligting en hulp. 4.Legal Aid South Africa: 0861 053 425 of besoek www.legal-aid.co.za vir bystand 5. Rape Crisis: 011 642 4345/ 021 447 9762. 6. SA Polisie-noodnommer: 10111

Addisonele bron: Network24