Ondanks sekere tonele wat vereis dat akteurs poedelnakend voor die kameras moet staan, meen sommige bekendes daar is iets erger as dit: om ’n mede-akteur te moet soen.

Volgens die New York Post kan daardie eerste soen ’n intense, ongemaklike atmosfeer vir almal op stel skep. Boonop is dit moeilik om die kuns van die soen te bemeester terwyl jy in karakter bly en die regisseur en kameras vermy.

Maar sommige sterre skroom nie om te sê wie hul lekkerste soen al was nie.

Megan Fox sê: Shia LaBeouf

Terwyl sy die fliek Teenage Mutant Ninja Turtles bemark het, het Megan Fox gesê haar gunstelingsoen op die skerm was met Shia LaBeouf.

Die voormalige Transformers-sterre was ook in 2011 by ’n liefdesdriehoek betrokke toe Megan en Brian Austin Green, nou haar man, ’n wyle uitmekaar was en sy by Shia betrokke was.

Kate Hudson sê: Heath Ledger

In 2002 het Kate Hudson en wyle Heath Ledger saam in die fliek The Four Feathers verskyn. Kate het onlangs op ’n vermaaklikheidsprogram gesê sy was baie beïndruk met Heath se soenvermoë.

Ethan Hawke sê: Angelina Jolie

Ethan Hawke sê Angelina Jolie het ’n besonderse manier om iemand te soen.

“Angelina is gebore om mans se knieë lam te maak. En wanneer sy jou soen, vergeet jy skoon wat jou eie naam is,” het hy gesê.

Keira Knightley sê: James McAvoy

James McAvoy se lippe het towerkrag, want Keira Knightley kon in 2007 nie uitgepraat raak nadat sy James in die fliek Atonement gesoen het nie.

“James soen beslis die beste!” het sy gesê.

Sandra Bullock sê: Scarlett Johansson

Ons kan beslis nie die 2010 MTV Movie Awards vergeet toe Sandra Bullock Scarlett Johansson se gesig op die verhoog gryp en haar soen het nie.

Sandra het later haar Generation-prys ontvang, en het op die verhoog gesê Scarlett soen beslis lekker.

Oprah Winfrey sê: Forest Whitaker

Die kletskoningin Oprah Winfrey en Forest Whitaker het in 2013 saam in die historiese drama The Butler verskyn. Sy sê haar grootste hoogtepunt van die verfilming daarvan was daardie ongelooflike soen met Forest.

Bron: nypost.com