Twee leerders van die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg aan die Oos-Rand in Johannesburg sal dissiplinêr verhoor word vir die besit van steroïde, het Beeld vandag berig.

Die skool se hoof, Leon de Beer, het die polisie gebel om die twee seuns van 16 en 17 jaar op die skoolgronde in hegtenis te neem.

Die skool se beheerraad het besluit om die seuns te skors hangende die uitslag van die verhoor volgende week.

Die beheerraad se voorsitter, Kobus Kleynhans, sê enige kind wat gevang word dat hulle steroïde gebruik, sal nie toegelaat word om weer aan skoolsport deel te neem nie.

Die polisie sê die seuns is in hegtenis geneem en in hul ouers se sorg vrygelaat.

Wat is anaboliese steroïde?

Dit is sintetiese stowwe wat die uitwerking van testosteroon in die liggaam naboots. Testosteroon, wat as die manlike geslagshormoon bekend staan al kom dit ook in vroue voor, is die hoofhormoon wat vir spiergroei verantwoordelik is.

Dr. Henry Kelbrick, ’n kenner van sportmedisyne van Pretoria, sê in sommige gevalle is die gebruik van steroïde toelaatbaar, soos by die behandeling van mediese probleme soos vertraagde puberteit en siektes soos kanker en MIV/vigs wat tot die verlies van maer spiermassa lei. In sulke gevalle ’n dokter die steroïdes voorskryf.

Dit is ontwettig om anaboliese steroïede te gebruik om spiere te bou om sport- of atletiekprestasie te verbeter. Anaboliese steroïede is in verskeie vorms te kry – pille, vloeistof, inspuitmengsels en poeiers. Dit het verskeie byname soos juice, candy, pumpers en stackers.

Tekens van steroïede-misbruik:

Die sportdokter Henry Kelbrick sê die volgende algemene tekens dui op middelmisbruik deur seuns:

- ’n Groter eetlus

- Slaaploosheid

- Aknee

- Aggressie

- Depressie

- Rekmerke, veral aan die boarms en bobene

- Naaldmerke, gewoonlik aan die boude

- Spiere wat maklik skeur

SAPA; ekstra inligting: Gloria Edwards