Johannesburg –

Die skildery is onlangs in ’n nederige woonstel in Londen ontdek waar dit as ’n kennisgewingbord gebruik is. Die eienaar het blykbaar geen idee van die waarde daarvan gehad nie.

Dit is die hoogste prys wat vanjaar vir ’n Suid-Afrikaanse skildery behaal is, sê die afslaer Bonhams.

Die skildery, getiteld Arabier in Swart, is Woensdag by ’n Bonhams-verkoping van Suid-Afrikaanse kuns in Londen vir R17,5 miljoen verkoop.

“Die sterk beeld uit Stern se hooggeagte Zanzibar-tydperk is een van die kunstenaar se beste werke. Dit het ook ’n fassinerende verlede – van ’n belangrike rol in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika tot sy onlangse lot as ’n kennisgewingbord in ’n eenvoudige Londense woonstel,” sê Hannah O’Leary, Bonhams se hoof van Suid-Afrikaanse kuns.

Arabier in Swart is in die vroeë 1960’s opgeveil om geld in te samel vir Mandela en sy medebeskuldigdes se regskoste in die Rivonia-verhoor en om hul gesin te onderhou. Stern het ’n werk vir die saak geskenk.

Die skildery se oorspronklike eienaar was die kunsversamelaar Betty Suzman, wie se pa, die oudparlementslid Max Sonnenberg, die kettingwinkel Woolworths gestig het.

Betty Suzman was die anti-apartheidsaktivis Helen Suzman se skoonsuster.

“In die 1970’s het dit na Brittanje gekom toe die koper na die VK emigreer en dit is later aan die huidige eienaar bemaak. Baie jare lank het Arabier in Swart in ’n woonstel in Londen gehang en is dit as ’n kennisgewingbord gebruik.”

Dit is tydens ’n roetinewaardasie ontdek.

“Ek het ’n roetinewaardasie gedoen toe ek die meesterstuk in die kombuis sien hang bedek met briewe, poskaarte en rekeninge,” sê Hannah.

Nou is Arabier in Swart een van die 10 duurste Suid-Afrikaanse skilderye wat al op ’n veiling verkoop is.

In 2011 het Bonhams Stern se skildery Arabiese Priester vir meer as £3 miljoen verkoop en so ’n nuwe rekord vir Stern opgestel.

Bron: News24