Sy is jonk, talentvol en pragtig. Ontmoet Chloë Moretz – sy is op 14 reeds een van Hollywood se gesogste jong sterre en maak nou opslae met haar rol in die nuwe weergawe van die klassieke gruwelprent Carrie.

Haar gatskop-deurbraak

Sy speel van kleinsaf toneel en het roem verwerf met haar rol as die vuilbekkige kinder-sluipmoordenaar in die 2010-treffer Kick-Ass. Sy kan niks bevestig nie, maar het al geskimp daar gaan ’n opvolgfliek gemaak word. “Ek sou dit graag binne die volgende jaar of twee wou doen want ek dink wat ouderdom betref is dit ’n goeie tyd. Jy leer ken haar as die 11-jarige sluipmoordenaar en ek dink dit sou pret wees om haar as volwassene, so ’n 16 tot 17-jarige Catwoman-tipe, verwronge twisted en donker mens uit te beeld.”

Chloë oor roem 

“Ek is steeds doodnormaal – ek moet ook huiswerkies doen en my bed opmaak, alles is dieselfde as voor ek ‘beroemd’ geraak het. My hele familie help my om fliekrolle te kies; dis ek, my ma en my broer. As hulle daarvan hou, stuur hulle dit vir my en as ek daarvan hou, doen ek dit.”

“Daar is sommige mense wat my op straat herken – sommige tieners en baie ouens wat Kick Ass gesien het.”

Het jy geweet?

Haar eerste groot fliekrol was in die gruwelprent The Amityville Horror. Maar sy was toe net sewe jaar oud en te jonk om die fliek se première by te woon.

Chloë oor toneelspel

“Ek het geleer om nooit die karakters wat ek speel te veroordeel nie. Dis soms moeilik want ’n mens is mos maar geneig om te oordeel. Maar ek het besef om die karakter lewe te gee, kan ek haar nie veroordeel nie, anders gaan ek nie getrou uitbeeld nie.”

“Ek wil graag nog vir ’n ruk lank toneelspeel – ek wil ’n loopbaan daarvan maak – maar ’n mens weet nooit. Ek hoop ek sal kan.”

Pretfeite

  • Brad Pitt is die ongelooflikste akteur wat sy nog ooit ontmoet het. “Hy was net wonderlik.”
  • Sy is die stem agter Darby in die animasiefliek My Friends Tigger & Pooh.
  • Sy speel videospeletjies, reis en twiet in haar vrye tyd!
  • Haar gunsteling-kosse is biefstuk, macaroni-en-kaas, pasta en soesji.
  • Sy verkies om Chloë Grace (haar tweede naam) genoem te word.
  • Haar ma, Teri, is ’n verpleegster en haar pa, McCoy, is ’n plastiese chirurg.
  • Haar gunsteling-klerewinkels is Topshop en American Apparel.
  • Sy haat dit om grimering te dra, maar is mal oor lipsalf.
  • Legally Blonde is haar gunsteling-fliek.
  • Haar ouer broer, Trevor Moretz, is haar toneelspel-afrigter.
  • Sy is goeie vriende met die aktrise Evan Rachel Wood.

Volg Chloë op Twitter @ChloeGMoretz of Facebook

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, TV.COM, DAILYMAIL.CO.UK