Die egpaar het die blye nuus Donderdag in ’n verklaring aan die tydskrif People bevestig.

“Ons is in die wolke verlief op baba Beau,” het Tori opgewonde gesê. “Hy is ’n ware seëning en sy broers en susters was verheug om hom te ontmoet! Ons is almal waarlik dankbaar vir ons groot, pragtige en gesonde gesin.”

Tori het die nuus ook op Twitter gedeel.

“Ons is baie opgewonde om die geboorte van die nuutste lid van die McDermott-gesin bekend te maak! Verwelkom asseblief Beau Dean McDermott saam met ons,” het die voormalige ster van 90210 geskryf.

Die 43-jarige en Dean het verlede Oktober onthul hulle verwag ’n nuwe toevoeging tot hul gesin.

Beau Dean sluit by sy sibbe Finn (4), Hattie (5), Stella (8) en Liam (9) aan. Die akteur Dean het ook ’n 18-jarige seun, Jack, uit sy huwelik met Mary Jo Eustace.

[caption id="attachment_161977" align="alignnone" width="1024"]Tori en haar man. Foto: Cover Media Tori en haar man, Dean McDermott. Foto: Cover Media[/caption]

Tori het nie verwag sy sou ’n vyfde kind hê nie nadat sy tydens haar swangerskap met haar seun Finn aan plasenta praevia gely het, ’n ernstige toestand waar die plasenta die serviks blokkeer.

“Ek het gedink as ons nog ’n baba kry, kan my lewe moontlik in die gevaar wees,” het sy verlede jaar aan die tydskrif People gesê. “Ek en Dean het vier pragtige kinders saam geskep en die gedagte daaraan dat hulle nie ’n ma sou hê nie (as iets weer skeefgeloop het) was nie iets waarmee ons geneë was nie.”

Maar met hierdie swangerskap het alles goed verloop.

Tori en Dean, wat in ’n rits werklikheidsprogramme verskyn het, is in 2006 getroud. Maar in 2013 het hul huwelik gewankel toe Dean daarvan beskuldig is dat hy haar verkul het.

Nadat hulle aan hul huwelik gewerk het, het Dean weer sy liefde aan Tori verklaar deur Tori in April verlede jaar in Parys, Frankryk, omring deur hul kinders weer die jawoord te vra.

© Cover Media