Die 55-jarige Britse akteur en komediant – wat aan bipolêre steurnis ly en die voorsitter van die liefdadigheidsorganisasie Mind is – het vertel sy vervaardiger het hom bewusteloos in ’n hotelkamer gekry.

In ’n gesprek met sy medekomediant Richard Herring (45), wat regstreeks voor ’n gehoor by die Leicester Square-teater opgeneem is, het Stephen gesê: “Ek is, dalk meer as ander mense, die slagoffer van my eie gemoedskommelinge. Tot so ’n mate dat ek ’n toestand het wat vereis dat ek medisyne drink sodat ek nie óf te ekstaties óf te terneergedruk raak tot die punt van selfdood nie.

“Ek het dit verlede jaar probeer doen, dus is ek nie altyd gelukkig nie. Dit is die eerste keer dat ek dit in die openbaar sê, maar ek kan dit net sowel doen. Ek is die voorsitter van Mind en, soos ek dit sien, is die hele punt van my rol om openlik te wees oor die morbiditeit en ware aard van die waarskynlikheid van dood onder mense met seker gemoedsteurnisse.

“Dit was ’n noue ontkoming. Ek het ’n klomp pille en baie wodka gedrink. Die mengsel het my liggaam so laat ruk dat ek vier ribbebene gebreek het en bewusteloos was. Gelukkig het die vervaardiger saam met wie ek toe gewerk het by die hotelkamer ingekom en my gevind. Hy het my teruggeneem Engeland toe en laat versorg.”

Stephen, wat ook al in 1995 sy eie lewe probeer neem het, het onthul sy familie en vriende was geskok oor die voorval verlede jaar.

By die praatjie, waaroor op comedy.co.uk berig is, het hy gesê: “Hoekom? is nie die regte vraag nie. Daar is geen rede nie. As daar ’n rede was, kon jy iemand daaruit geredeneer het en jy kon sê waarom hulle nie hul eie lewe moet neem nie. “Toe my vriende hiervan hoor en my familie eindelik hiervan uitvind, het almal my in die hospitaal kom besoek en gevra: ‘Hoekom het jy nie gebel nie?’ ”