Die 7th Heaven-akteur het twee maande gelede opslae gemaak toe die skinderwebtuiste TMZ ’n opname bekendmaak waarin hy na bewering erken hy het drie meisies tussen 10 en 13 gemolesteer. Die opname is blykbaar skelm gemaak tydens terapiesessies met Stephen en Faye Grant, wat in 2012 ’n egskeiding aangevra het.

Stephen het aanvanklik niks daaroor gesê nie, maar het nou ’n verklaring aan die Amerikaanse tydskrif People uitgereik.

“Veertig jaar gelede het ek iets verkeerds gedoen wat ek werklik berou. Sedertdien het ek daarvoor probeer boete doen,” het hy gesê. “Ek het besluit om die sake openlik te bespreek omdat talle nuusorganisasies twee maande gelede ’n opname bekendgemaak het van ’n vertroulike huweliksberadingsessie tussen my en Faye Grant, my gewese vrou, wat in Januarie 2012 plaasgevind het. Hierdie sessie is sonder my of die terapeut se kennis of toestemming opgeneem.

'Die 7th Heaven-akteur het twee maande gelede opslae gemaak toe die skinderwebtuiste TMZ ’n opname bekendmaak waarin hy na bewering erken hy het drie meisies tussen 10 en 13 gemolesteer.'

“In die opname beskryf ek gebeure wat 20, 32 en 40 jaar gelede gebeur het. Die publikasie van die opname het gelei tot aannames en innuendo’s oor wat ek gedoen het, wat veel verder strek as wat werklik gebeur het. Dis baie moeilik, maar ek wil hê mense moet die waarheid weet.”

Stephen erken daar was drie slagoffers en hou vol die afgelope twee dekades was daar “nie weer ’n impuls” om sy dade te herhaal nie.

Hy het die betrokkenes nie verskoning gevra nie, maar probeer in die verklaring verduidelik hoekom. Die 67-jarige sal dit in meer besonderhede verduidelik in ’n onderhoud met die nuusaanbieder Katie Couric wat op Yahoo! uitgesaai sal word en Vrydag op die Amerikaanse TV-program 20/20 gewys sal word.

“Ek het met een van die vroue die geleentheid gekry om dit te doen, 15 jaar nadat dit gebeur het. Ek het verskoning gevra en sy was uiters genadig,” het hy verduidelik. “Maar nadat ek tydens my behandeling geleer het sulke direktheid is eintlik nadelig omdat dit ou wonde oopkrap, het ek nie die ander twee vroue – een is in haar 50’s en die ander in haar 30’s – genader nie.”

In die verklaring van 1 000 woorde vra Stephen verskoning vir sy dade en sê hy hy aanvaar verantwoordelikheid vir wat gebeur het.

Hy beskryf sy dade in detail en erken hy het hom voor ’n jong meisie ontbloot toe hy 25 was. Hy het haar ook gedwing om aan hom te vat.

“Dit was ’n totaal impulsiewe daad, en sedertdien spook dit wat ek aan haar gedoen het, by my,” het hy in die verklaring gesê, wat gedeeltelik op today.com gepubliseer is.

Stephen en Faye is ná ’n huwelik van 27 jaar steeds in ’n bitter egskeidingstryd gewikkel. Sy hou vol sy het nie die opname aan die media gegee nie.

Op die oomblik is geen kriminele klagtes teen die akteur gebring nie en die slagoffers het nie na vore gekom nie.

© Cover Media