Dié wêreldbekende koor onder leiding van André van der Merwe het eerste plekke en goue medaljes in drie kategorieë verower: á Capella, geestelike liedere en kontemporêre musiek.

In die kategorie gewyde á Capella het hulle 92% behaal, in die kategorie vir geestelike liedere 94% en in die afdeling vir kontemporêre musiek 98%.

Laasgenoemde was die hoogste punt wat toegeken is in enige van die 27 kategorieë waarin die kore die laaste tien dae meegeding het.

Ná die naweek se spoggerige vertoning behou die US-koor hul plek boaan die Interkultur-ranglys vir beste internasionale nie-professionele kore, ’n posisie wat hulle reeds sedert 2012 beklee.

In ander goeie nuus het die US-koor ook ’n spesiale CD-kontrak losgeslaan in die gesogte Choirs of the World-reeks.

Die Internasionale Koorspele word tweejaarliks aangebied en vanjaar het meer as 300 kore uit 36 lande deelgeneem. Dit is die grootste koorkompetisie ter wêreld. Interkultur het vroeër aangekondig dat die negende Internasionale Koorspele in 2018 in Pretoria sal wees.