’n 33-Jarige vrou en haar kêrel (40) is in hegtenis geneem vir die gru-moord op die bejaarde eienaar van ’n gastehuis in Stellenbosch.

Dié twee verskyn Maandag (20 Februarie) in die landdroshof in Stellenbosch op aanklagte van moord en roof nadat hulle vroeg Saterdagoggend in die Paarl aangekeer is.

Die grumoord op Marie Verwey (80) het skokgolwe deur Stellenbosch gestuur nadat haar erg bebloede lyk Donderdag in die Villa Merwe-gastheuis in Paradyskloof gevind is.

Marie, ’n weduwee, was die eienaar van dié gastehuis. Sy het met behulp van ’n loopraam geloop en is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek.

Marie is na bewering meer as 22 keer gesteek, onder meer agt keer in haar nek. Volgens berigte is haar keel ook byna heeltemal afgesny. Haar bebloede lyk is in haar gunstelingstoel in die gastehuis se sitkamer gekry.

Daar was glo geen teken van gedwonge toegang tot die huis nie en haar noodknoppie was nog om haar nek. Dié knoppie is nooit gebruik nie.