’n Bejaarde vrou (80) is Donderdag helder oordag in Paradyskloof, Stellenbosch, met ’n mes aangeval en vermoor.

Die vrou deel ’n huis met haar seun. Die huiswerker het Donderdag omstreeks 12:30 winkel toe gestap.

Toe sy sowat ’n halfuur later terugkeer, het sy die vrou se lyk in haar stoel gevind.

Sy het vermoedelik aan steekwonde beswyk.

Kapt. Frederich van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die dood van die 80-jarige vrou bevestig. Hy sê die saak word ondersoek. Hul span is steeds op die toneel.

’n Moordsaak is geopen. Nog inligting rondom die vrou se dood sal later bekendgemaak word.