Martin (54), Teresa (55) en hul oudste seun Rudi (22) is op 27 Januarie met ’n byl afgemaai in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch - en hul moordenaar is sedertdien nog op vrye voet.

Die egpaar se enigste dogter Marli (16) is ook met die byl gekap, maar het die voorval rakelings oorleef. Hul jongste seun Henri (20) het slegs etlike merke aan een van sy voorarms opgedoen.

Rapport het die naweek berig dat die inhegtenisneming van ’n verdagte in die bylmoorde is uitgestel nadat die dossier deur senior speurders in die Wes-Kaap oorgeneem is om “gate toe te stop en waterdig te maak.”

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het die ondersoekspan die moorddosier reeds in Maart aan die NVG oorhandig en was gereed om 'n inhegtenisneming te maak.

Die NVG het egter die dossier kort daarna terug aan die speurtak op Stellenbosch gestuur, sodat die span uitsaande ondersoekwerk kan af handel.

Rapport berig “senior kapteins en kolonels” van die Wes-Kaapse polisie bekyk nou die dossier en het ’n “paar gate” uitgewys.

Nuwe leidrade is glo gekry en nog mense moet ondervra word sodat die taakmag ‘n “waterdigte” saak teen die verdagte (s) kan bou en die polisie en vervolgingsgesag enige verleentheid in dié hoëprofielsaak kan spaar.

Geheueverlies

Volgens Henri se verklaring het ’n onbekende man sy gesinslede vermoor en aangerand en dat hy toe teen die kop geslaan is voordat die die man die byl na hom toe gegooi het.

Henri het verlede week weer ’n vlug na Johannesburg geneem waar hy by vriende vir ’n ruk kuier.

Volgens 'n familieverklaring ly Marli aan geheueverlies en kan glo niks van die aanval onthou nie. Sy bly tans by familielede op Somerset-Wes.

Sedert die moorde is Marli en Henri nie toegelaat om met mekaar kontak te he nie.

Die De Zalze-huis is tans vir R6,2?miljoen in die mark.

Adv. Louise Buikman, Marli se kurator en regsverteenwoordiger, moet teen 31 Mei ’n verslag by die hof indien oor Marli se toekoms.

Bronne: Rapport, Netwerk24